SANDkoerant 3 | Page 15

Om in die koshuis te bly waarin my ma gebly het, is ’n groot voorreg. Van kindsbeen af het ek aan haar lippe gehang wanneer sy stringe stories vertel het van koshuis kattekwaad en PUK manewales. Die dinge wat húlle aangevang het, sal tannie Alta se hare laat rys! Daarom het ek haar (Marietjie Bos) gevra om ’n paar verhale neer te pen vir die van ons wat nou dieselfde gange bewandel waar jare se geskiedenis al afgespeel het...

Sêr 30 jaar gelede was nie soos ons dit vandag ken nie. Hierdie groepie dames het informeel bymekaargekom en snags in die koshuisgange gesing en so een keer per week ’n manskoshuis met hulle goue stemme vermaak. My ma is die mooi ene met die kitaar in die hand.

JOOL het nie baie verander sedert die 90’s nie. Anders as ek was my ma ’n JOOLige student. Sy en haar koshuismaats het JOOL voluit aangepak – sonder die alkohol natuurlik. Eerstejaars moes toe reeds blommetjies vou en het ook dwarsdeur die nag hulle vingertjies stomp gewerk om die vlot klaar te kry. Een jaar was die tema James Bond en hulle het heelaand 007 flieks gekyk op die Fanie se rugbyvelde.

Toe my ma ’n eerstejaar was, moes hulle regtig baie geld insamel vir JOOL. Hulle is onder andere in ’n nabygeleë dorp afgelaai om Pukki’s te verkoop vir ’n hele dag en het ook Klerksdorp se strate deurgeloop met blikskud aksies. My ma en haar gang het egter besluit hulle wil nou vinniger geld insamel en al die nonsens vryspring. Daarom het hulle eers ’n Pick ’n’ Pay trollie vasgelê en ’n losprys geëis, maar die aanbod was te laag na hulle sin en toe het hulle die trollie maar gehou. Daarna het hulle ’n meer waardevolle item – die TREK garage se plastiek kenteken sebra – ontvoer op ’n Golfie se dak en gyselaar gehou tot ’n losprys van omtrent R200 uitbetaal is! Dit is nou die sebra waarop my ma in die foto sit.

-Sei

sandkoerant 12

sandkoerant 13