SANDkoerant 2 | Page 6

sandkoerant 05

Ons almal weet dat hier teen die einde van die jaar soos die temperature lig en meer vel begin wys, dit altyd ʼn gesukkel is om die ekstra gewig af te skud net om weer daardie vakansie-lyf-selfvertroue te kry. Deur net ʼn paar eenvoudige aanpassings in jou daaglikse roetine, sal die probleem, en wel die grootte daarvan, hopelik meer hanteerbaar wees. Almal weet hoe moeilik dit kan wees om op ʼn koue dag nee te sê vir daardie lekker warm pizza of warm sjokolade, selfs ʼn lekker melkskommel of roomys op ʼn warm dag. Nie dat ek sê dit moet 100% uitgesny word nie, maar om die inname daarvan te verminder kan wel ʼn verskil maak.

Tussen klasse is dit altyd ʼn gejaag en die SS met sy verskeidenheid broodjies, pita`s en lekkernye is sentraal geleë om enige hongerkol toe te stop, maar dit is dalk nie die gesondste uitweg nie. Deur net ʼn bietjie verder te stap na ʼn eetsaal op kampus, kan jy eerder lekker gekookte kos eet wat jou selfs langer vol sal hou. Dan is dit ook belangrik om te onthou dat net omdat jy gesonder opsies eet, daar steeds porsie beheer toegepas moet word. Dit kan selfs raadsaam wees om nie elke keer jou kos te oorlaai met souse nie en dalk eerder water of Kilojoule-vrye drankies te drink as dié wat gelaai is met suiker en kalorieë. Op daardie noot, tee en koffie self is kalorieë-vry en slegs die melk en suiker wat ons byvoeg voeg die kJ`s by, as jy dus baie koffie of tee drink sal ek aanraai dat jy lae vet of selfs vetvrye melk gebruik en so min as moontlik suiker byvoeg.Soos dit nader aan GAG-week en eksamen kom, is dit altyd lekker om te peusel aan een of ander ding terwyl ons leer. Alhoewel te veel tussen-in eet baie

ongesond is, is daar wel sommige alternatiewe wat nie soveel skade doen soos ander nie. Goeie opsies sal wees popcorn, pretzels en natuurlik vrugte of groente soos wortels, komkommer, ens. Probeer gereeld water drink sodat jy nie konstant soek vir iets om aan te knibbel nie.

By die koshuis is daar ook ʼn hele paar geleenthede om kalorieë te verbrand met al die oefenklasse wat die koshuis bied vir diegene wat nie aan oefenklubs behoort nie. ʼn Alombekende wenk is om eerder trappe te klim as om die huisbak te ry.

*Daar is ook Dinsdae aande 18:00 ʼn tydtoets wat aangebied word deur die BRICKS-atletiek klub en landswyd elke Saterdag oggend om 08:00 die Parkrun.

In ʼn besige skedule is gesondheid gewoonlik nie hoog op meeste mense se prioriteitslysies nie en daarom hoop ek dat hierdie algemene wenke kan help dat elke dame nie vakansies haar polse wil kou omdat sy haarself te veel laat gaan het in die aspek van ʼn gesonde lewenstyl nie. Om gesond te lewe en te oefen laat jou as mens nie net beter voel nie, maar dit hou lewenslange voordele vir jou gesondheid in.

-Matt