SANDkoerant 2 | Page 20

‘n Sogenaamde “gesonder leefstyl” maak deesdae sy oplewing onder die Potch-studente. As mens nie ‘n span sien draf op pad Fanie toe nie, sien jy hulle deur Virgin Active se venster…maar wat van eetgewoontes? Mens neem sommer net aan dat dit onvolhoubaar is om ‘n vegetariër in Noord-wes te wees. Die Sandkoerant het besluit om ondersoek in te stel oor hoe mens ‘n vegetariër kan wees op kampus…en om vleis op te gee regtig so moeiteloos is.

Eiers is ‘n maklike en goeie vervanging vir vleis. Jy kan dit sommer by die voorhuis koop of in jou mikrogolfoond in die kamer kook.

Ertjies is ook ‘n goeie bron van proteïene.

Die voorhuis voorsien ook tydens middagete ‘n groot verskeidenheid groente. Maak dit sommer ‘n mengelmoes van 3 verskillende soorte groente– onthou: dit is belangrik om bietjie meer stysel te eet. Aangesien jy vleis uitsny, is dit stysel wat jou langer gaan versadig hou. So, sê maar ja vir die gebakte aartappel of die aartappelslaai .Die klassieke “mac and cheese” is ook altyd ‘n gewilde opsie as jy jouself die dag wil bederf.

As jy jouself by die SS bevind, kan jy kies uit aartappelsamoosas, ‘n kaas en tamatie panini of ‘n opwindende vrugteslaai.

Die bult kan altyd ‘n effense probleem voorspel ten opsigte van gebalanseerde eetgewoontes. Chicken licken is net te goedkoop en Varsity Café is net te gerieflik.

Moet jouself nie bekommer nie ; tot hier kan jy jou nuwe vegetariese leefstyl volhou. Stadium en Kfc het beide “veggie burgers”. Die patties bestaan uit ‘n aartappel -en groentebasis. Fine Things het ook ‘n vegetariese pizza.

When in doubt: enigiets met spinasie en feta is altyd ‘n goeie opsie. Of dit nou ‘n tramazinni of ‘n omelet is – jy kan nie verkeerd gaan nie! Dit is ‘n opsie by Die Akker en Maxi’s.

Mike’s Kitchen het ‘n “banting burger” – ‘n soyapattie op ‘n sampioen.

Indien jy meer die tipe is wat in jou kamer kosmaak: daar is ‘n groot verskeidenheid soya-gebasseerde produkte te koop by groothandelaars soos bv.Checkers. Fry’s is ‘n gewilde een. Hul vervaardig produkte soos nuggets, patties en schnitzels. Dit het steeds die tekstuur en voorkoms van hoender of beesvleis, maar is net eerder soya -en plantgebasseerd.

Moenie probeer om geen proteïene in te neem nie. Dit is nogsteeds ‘n belangrike voedselgroep ; fokus net meer op bronne soos eiers, soya, boontjies of tot ertjies.