Dit was vroegmôre toe ek motors voor die koshuis hoor stilhou. Ma’s is in ekstase om hul bloeiseltjies weer te sien. Ek moes weet hierdie dag sou ek nie virewig kon wegwens nie. Die kalender skree HUISDANS in bloedrooi vet letters. O vet, my vlug of veg response skop in.
Ek staar na die plafon. My wange in tamatie rooi gloede oor ‘n bekende stem wat voor die kamervenster staan en skree. Ma.
“Lisa liefling, die dag het aangebreek! Moet tog nie jou ma so laat wag nie. Toe nou die sakke raak swaar”, skree ‘n skril stem terwyl sy haar Revlon lippe teen mekaar vee. Die voordele van op die eerste vloer bly. Kon sy nie maar my net eerder geskakel het soos enige ander beskaafde mens nie? Nadeel van ʼn outgoing ma hê. Ek stap by die deur uit en maak hom versigtig toe. Net sodat my buurvrou nie dadelik agterkom dis my ma wie soos ʼn barbaar staan en skree nie. My voete raak die trappe ekstra stadig. Só asof dit nou gaan help. Vir een of ander onbekende rede voel hierdie trappe baie korter as gewoonlik. Ek stoot die deur stadig oop soos iemand wat arms gegym het. Ek loer links en regs of daar nie enige seniors is wat my gaan aanval nie. En daar staan sy in al haar glorie.
“Lisa kind! Oegh, watse puisie is daardie op jou voorkop? Mens sou sweer die tamatieboer moet tamaties kom oes.” Sy druk my so styf teen haar vas, dit voel my borste gaan bars.
“Dis sommer niks Ma, dis maar net die eksamenstres. Ma weet...”
“Nonsens! Jy eet weer skelm daardie sjokoladesmeer. Jy weet jy is suikersensitief. Ek het gesê jy moet kyk na jou figuur. Mans hou nie van boomstompe nie. Hoe wil jy in jou rok pas vanaand?”
My kop sak in skaamte. “Gepraat van rok... Daardie swartfluweel een se zip het geskeur.”
“Gelukkig is jou ma hier. Daar is niks wat my naaldwerk nie kan regruk nie.”
Laas toe sy naaldwerk gedoen het, het almal gedink ek is ʼn misvormde ‘alien’ toe ek soos Cinderella moes lyk. Dank vader my pa het ingestem dat ‘n ontwerper my matriekafskeidrok kon maak. Haar idee van afdroogdoeke as materiaal was nie my idee van mooi nie.
Ek staar na die bekende beeld van myself in die venster se refleksie. Maar wat is my definisie van mooi? Nie ek nie. Soms wens ek ek kon myself deur God se oë sien. Hy sien elke liewe wese wat hy geskape het beeldskoon, pragtig en uniek in sy eie manier. Maar soos ek hier staan... sien ek selfhaat, bleek en nie mooi genoeg om te kan voel soos ‘n prinses by vanaand se huisdans nie. Net Nico sal weet waarom hy ingestem het om saam met hierdie vaal aster ‘n aand vol herinneringe deur te bring.
“Toe toe toe, vir wat staan jy hier en gin en gaap. Ons het dinge om te doen en plekke om te wees.” Ma staar vir haarself in die spieël. Sy trek haar dun lang vingers deur haar goue bos krulle.
“Kan ek nie net die siekkaart gebruik nie? Ons kan sê ek het pampoentjies, in ‘n vreeslike aansteeklike graad. Of nog beter..”
-Kas