Musiek 247 vol1 | Page 9

Romanties

Wanneer twee van die mees bekwame en gerespekteerde instrumentaliste in die land besluit om hul talente op een album vas te vang, kan 'n mens reeds iets spesiaal verwag. Wanneer die kombinasie van instrumente boonop selde saam gehoor word, is daar selfs méér om te kan waardeer.

Dis presies wat Ryan Walt en Deon van der Merwe se eerste gesamentlike duetalbum, Romanties, vir diegene bied wat van instrumentele musiek hou.

Ryan het die op sewejarige ouderdom vir die eerste keer gehoor hoe Gheorghe Zamfir die panfluit speel en so is Ryan se droom gebore. In sy matriekjaar en as 18-jarige het Ryan sy eerste panfluit gekry en homself leer speel. Hy vertel dat hy en Deon mekaar al vir meer as 20 jaar ken.

“Deon het die meerderheid van my vorige albums vervaardig en ook kitaar gespeel vir die agtergrond van daardie albums. Dit is nou vir die eerste keer dat ons 'n amptelike duetalbum saam opgeneem het. Dis soos 'n droom wat waar geword het om 'n album saam met 'n pel wat jy al 22 jaar lank ken op te neem,” het Ryan gesê.

Deon was vir 25 jaar deel van die musiekgroep, Touch of Class. Volgens hom is dit 'n skaarse verskynsel dat 'n panfluit en Spaanse kitaar saam in duet op 'n album gehoor word.

“Die Spaanse kitaarklanke werk mooi saam met die klanke van 'n panfluit. Dit is 'n unieke kombinasie en sover weet is dit nog nooit in die wêreld gedoen nie,” het Deon gesê.

Met Ryan op die panfluit en Deon op die kitaar is 'n wenkombinasie van aaneenvloeiende (legato) panfluitklanke en kitaaraksente (staccato) op hul duetalbum, Romanties, vasgevang.

Boonop is hierdie instumente op hul eie nie net 'n plesier om na te luister nie, maar selfs méér treffend wanneer dit die melodieë van die 14 bekende liedjies op die album soos onder meer Don't Cry For Me Argentina, Chariots of Fire , Any Dream Will Do en Love Changes Everything weerklink. Verder sal hul weergawes van El Condor pasa, Maggie, My Heart Will Go On en Elizabeth Serenade ' n mens ongetwyfeld meesleur.

Wees ook op die uitkyk vir Ryan Walt en Deon van der Merwe se tweede duetalbum, Klassiek, wat in Mei vrygestel sal word.

Ryan Walt & Deon van der Merwe Romanties

9

[email protected]