Musiek 247 vol1 | Page 8

Rinél Day

Rinél Day

8

Met 22 nommer 1’s op radiostasies regoor Suid-Afrika in 2013 én ’n 16de plek by ’n internasionale kompetisie waarby Celine Dion 2de geeïndig het, is dit duidelik: die talentvolle Rinél Day is een dinamiese sangeres om voortaan dop te hou. Rinél wil geen steen ongaangeroer laat in haar droom om musiek te maak nie. Dus het sy nie geskroom om ook self te begin skryf aan die liedjies wat op haar pas vrygestelde album, Dit Staan In Die Sterre, verskyn nie.

“Ek het geen van die liedjies op my debuutalbum, Rinél Day, geskryf nie. Ek het egter help skryf aan die liedjies vir my nuwe album, Dit Staan In Die Sterre, en dit bevat soveel meer van my eie styl. Die lirieke en melodieë van elke snit op die album vertel ’n storie,” het Rinél vertel. Die album bestaan uit 16 snitte en is ’n genotvolle kombinasie van beide ontspanne en opgewekte, musiek. Rinél gee erkenning aan Michael de Lange, Johan Oberholzer, Emil Struwig en Waldo Greeff wat gehelp het om die liedjies neer te pen asook aan Byron Kuntz wat die album vervaardig het.

Rinel Day - Dit staan in die sterre promo

Sy meen dat daar iets vir almal op haar nuutste album is. “Ek het probeer om elemente van pop, rock en country by die album in te bring en Byron Kunts het daardie elemente presies vasgevang.” Haar suiwer stem word veral uitgebeeld in vokaal uitdagende liedjies soos die titelsnit, Dit Staan In Die Sterre asook Maak My Joune, ’n Duisend Gedagtes en As Jy My Laat Gaan.

Die album is skaars vrygestel maar vorder reeds uitstekend. “Tot dusver verskyn die titelsnit, Dit Staan In Die Sterre, reeds op drie verskillende radiostasies se charts en daar is baie goeie terugvoer,” het sy gesê.

Rinel Day - Dit staan in die Sterre

Day het haar eerste talentkompetisie gewen toe sy slegs tien jaar oud was. “Ek het die liedjie Wie sou jou kon liefhê soos ek? van Patricia Lewis gesing en het toe besluit dat ek eendag ‘n sangeres wil word, indien ek die geleentheid sou kry. Ek het ook grootgeword met die musiek van die country-sanger Alan Jackson, Madonna, Shania Twain en Don Williams. So het my liefde vir musiek begin en dit het net aanhou groei. Hoe meer ek musiek hoor, hoe meer wil ek musiek maak.”