Musiek 247 vol1 | Page 10

KlankKas-onderhoude Steyn de Wet : "Ek probeer om myself te wees as ek skryf"

Henry Cloete

10

Steyn deWet

Jou debuut-album, Kyk Maar Mooi, is pas vrygestel. Jy’t nog in Desember een aand op Vleesbaai se strand van die tunes aan my gespeel (jou vrou was darem ook daar, so dit was nie “só” nie). Hoe voel dit om ná jare van informeel jol ‘n album uit te hê?

Ai Henry, ek dog ons het ’n moment daar gehad, hahahahahaha ... Weet jy wat, hierdie is ’n groot ding vir my. Ek werk daagliks op projekte, maar hierdie is die eerste keer wat ek na ’n stuk werk kan kyk en regtig trots voel daarop. Ek voel dit is die eerste keer dat die vrug van my arbeid werklik die moeite werd is. Soos jy noem, ek het baie aande daar op Vleesbaai se strand langs ’n vuurtjie tussen pelle gesit en jam, en baie keer as die laaste manne klaar huiswaarts gestrompel het, het ek nog so bietjie aangehou en gewonder hoe dit sou voel om hierdie ding werklik aan te pak. Dit is ’n droom wat waar geword het, en die beste is, dit is nog net die begin. Ek sien baie uit om te sien waarnatoe hierdie paadjie gaan lei.

Met 15 snitte is dit nogal ‘n stewige debuut. Hoe het die siftingsproses gewerk om te bepaal wat op die album sou kom, of het jy enigsins tematies te werk gegaan en daarvolgens geskryf?

Hierdie songs is my gunstelinge van wat ek oor die afgelope tien jaar geskryf het – dit is so te sê ’n biografie van daardie tien jaar. As jy so daarna kyk, dan is die album tematies geskryf, want dit handel alles oor dinge, gebeure en mense wat deur my lewe geloop het in daardie tyd. Elke song het ’n persoon of ’n regte stukkie van my verhaal daarin. Maar ek het hierdie projek glad nie tematies aangedurf in die sin dat ek op ’n tema besluit het en toe geskryf en gekies het nie.

Jan Blohm, wat die album vervaardig het, was die sif. Dit is eintlik bitter snaaks as ek terugdink daaraan. Jan lyk dalk soos ’n rowwe rocker, maar hy is eintlik die nederigste, mees saggeaarde mens wat ek nog ontmoet het. Ek dink ek het altesaam so bietjie meer as 50 van my songs vir hom gespeel, waarvan ons seker vir so 30 demo’s opgeneem het. Ek het op Jan vertrou om die songs te kies, want my songs is my kinders – ek is selfs lief vir die dik een met die bak-ore en die tien moesies in die gevreet, soos my ouers was. Toe ons nou moes besluit op watter 15 op die album kom (en watter songs hy nie eens demo’s voor wou doen nie), kon ek sien dit was vir hom verskriklik moeilik om vir my te sê: "Sorry maat, daai is regtig net nie ’n goeie song nie ..." Shame, die ou het allerhande eufemismes traai uithaal. Op die ou end het hy volstaan met: "Kom ons los daai een vir die volgende album ..."