Steyn de Wet
Dis nou wel jou eerste amptelike CD, maar jy maak al lank en wyd musiek. Enige staaltjies om te vertel in dié verband – plekke waar jy nie meer welkom is nie of waarheen jy nie sal terugkeer nie?
Jong jong jong! Een van my medewerkers aan die album se vrou wou vir so ‘n paar maande nie met my praat nie, as gevolg van wat ons aangevang het ... jislaaikit – maar ek kan dit nie hier blootlê nie.
Kom ek dink! O jitte ja! Verskriklike storie. Ek het ’n vriendin. Ek is verskriklik lief vir haar en ons het nogals ’n pad gestap. Ek het “Dwarsdeur” oor haar geskryf. Ek moes vir maande lank troos na haar idioot van ’n ou haar oor ’n e-mail gelos het nadat hy haar verneuk het – en sy't gereken hulle sou eendag trou. Toe begin hy kort daarna haar BFF date. Kind was stukkend. Op die ou end kom sy en ’n fantastiese ou bymekaar en hulle gaan trou en vra my ek moet musiek maak by hul troue. Ek sê nee kwaai, dit sal my grootste voorreg wees! Nou woon ek daai tyd in Engeland en ek en Saartjie (die kitaar) pak toe af Suid-Afrika toe. Die aand voor ek vlieg, werk ek deurnag om ’n deadline te eer en die nag op die vliegtuig slaap ek niks, want ’n Anglikaanse priester wat nou net van retreat af terugkom (wie moet al die pad Engeland toe om te retreat?) is so vol gees hy wil die heelaand deur gesels en hoe meer ek traai verduidelik ek moet slaap, want ek moet môre sang lei by ’n troue en musiek maak, hoe meer wil hy my verduidelik van wat worship is. So met twee nagte se slaap agter kom ek bra uitgeput by hierdie party aan. Ek en ’n ou vriendin gaan saam sing en ons gel lekker soos ons rehearse, totdat daar so ‘n ander ou tannie opdaag wat reken sy moet keyboard speel saam met ons. En daar is dit skielik ’n nagmerrie! Ek en daai tannie en Saartjie en haar keyboard vind mekaar GLAD NIE. En dit is nie juis asof “How great is our God” ’n ingewikkelde song is nie! So ‘n halfuur voor die troue begin is die tannie daar weg om die neus te poeier en ek en my vriendin hardloop toe weer deur die songs en dit werk perfek. Ek sê toe vir haar: Hoor hier, dit gaan nie oor my of jou nie, dit gaan oor ons vriendin, haar troue moet perfek wees – ek gaan nou die keyboard wegpak! En daar gaan die keyboard en ek gaan stort. Ek is skaars lekker aan die sing in die stort toe die seremoniemeester daar inbars en skreeu: "Wat het jy met die keyboard gemaak? Die troumars moet daarop gespeel word!" My hart was in my keel en my moed in my skoene. Ek hardloop halfkaal daar uit ... en sien dan hoe baie mense sit al daar en wag dat die seremonie begin. Maar nou het hul my klaar gesien, so nou moet ek maar gou help om die keyboard weer op te stel. En die keyboard tannie kom daar aan. Sy vermoed wat gebeur het en sy gee my so ‘n vuil kyk wat vir die res van die aand aan haar bakkies bly sit het. Ek is toe terug stort toe om die seep af te spoel en aan te trek en toe speel ons almal maar saam, want ek het nie kans gesien vir ’n fight voor die kansel nie. En die musiek was terrible. Ergste van alles vir my was, twee van my helde, Bertie en Beitel van Zinkplaat, was daar om dit alles gade te slaan.
Steyn de Wet
11
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Steyn de Wet in?
Alhoewel daai Somaliese perde besig is om my romantisering baie vinnig te kelder, wil ek nog altyd eendag ’n seerower word. Maar ingeval dit nie werk nie, wil ek die nabye, verder en verre toekoms so hê:
Die nabye toekoms hou ’n hele paar dinge in: ek wil trek na ’n huis met ’n dubbel-garage, sodat ek en my band, TABO, nie altyd so hoef te sukkel met plek om te oefen nie. Dan wil ek oor die volgende paar jaar minstens ’n duisend gigs saam met TABO speel – Piet Botha sê altyd jy is eers ’n band as jy ’n duisend gigs saam gespeel het.
Êrens tussen die nabye en verder toekoms is daar ’n klompie pienk voete op pad, trek ons terug plaas toe, verken ons die wêreld, geniet ons baie avonture en raak ek verantwoordelik.
In die verder toekoms is ek dr De Wet met ’n lang baard, wat pyp rook, in ’n berghut bly, akademiese artikels oor teoretiese fisika skryf en nog steeds saam met TABO speel, wat intussen gegroei het na ’n big-band bluegrass folk-rock outfit. My vrou en kinders skaam hul dood vir die ou-toppie wat nog steeds op die stage wil wees en weirder lyk as Bono met geel nightvision-brille.
In die verre toekoms woon ek in ’n ander dimensie, want teen daardie tyd het die wetenskap dit moontlik gemaak om tussen dimensies te beweeg. Indien die wetenskap dit nog nie moontlik gemaak het nie, dalk verskiet ons na ’n ander dimensie wanneer ons heengaan. En daar sal ek vroeg genoeg my debuut-album op die planke bring sodat ek minstens een keer saam met Zinkplaat kan toer.