MARKtoe! OKTOBER 2023 Uitgawe 109 | Page 24

LANDBOU
Links : Die ontkiemingskamer waar nuwe bome die eerste lig sien . Regs : Produsente bestel die bome vir nuwe aanplantings twee jaar voor die tyd .

“ Ons het uiteindelik finaal besluit hoe die masjinerie gaan lyk en toe nader ons die maatskappy wat die gebou sou oprig , sê dit is hoe dinge lyk en hulle rig die gebou op . Jy benader dus die projek agterstevoor . Die gebou word nie opgerig en dan besluit jy ná die tyd hoe die masjinerie moet lyk nie .”

Slapelose nagte ? Kwansuis baie , veral toe die paklyn vir die eerste keer aan die loop gesit word .

“ Die goeie aspek van ʼn pakhuis in vergelyking met ‘ n boerdery , is die feit dat jy baie meer beheer het . Aan die ander kant , het jy ʼn beperkte aantal dae om te pak . As ek byvoorbeeld besluit om hierdie jaar 70 000 kratte oor my lyn te gooi , het ek 120 dae om dit te doen . Ek moet uitwerk gedurende watter weke hulle aankom . En ek het net soveel ure per dag en ek moet daardie vrugte oor die lyn kry . Gebeur dit dat van die masjinerie breek , of jy het arbeidsprobleme ,

of die kartonmaatskappy het nie voorraad nie , of die pad is toe , of die hawe is vol en jou pakhuisvloere is tot oorlopens toe vol , het jy probleme . Indien jy een van daardie pakdae verloor het , kan jy dit nie weer inhaal nie . Al genade is om harder te werk .”

Die ou gesegde spreek : ágter elke suksesvolle man staan ʼn vrou . In CJ en Nellis se geval staan daar egter twee ewe suksesvolle vroue skouer aan skouer lángs hulle . Hierdie is ʼn sterk familie-georiënteerde besigheid waarin Marina die besigheid se bestuur en finansies op kantoorvlak beheer en Tilana , CJ se wederhelf , verantwoordelik is vir die pakhuis se plaaslike verkope gedurende die pakseisoen .

Hierdie vierenigheid skroom nie vir harde werk nie . Die indrukwekkende pakhuis ( wat nog tot Fase Vier ontwikkel gaan word ) spreek hard en duidelik hiervan .

24 MARKtoe ! Oktober 2023