mens moet net toesien dat jy lugvloei het dan is jy reg . Maar as jy op die verkeerde tyd 20 mm reën sou kry , verloor jy baie ,” beduie hy .
“ Jy moet so 5 000 boksies per hektaar kan oes vir ʼn goeie opbrengs en as jy dan 1 000 kartonne sou verloor , verloor jy R200 000 – dit betaal al klaar die plastiek . Die nette is vir ons ‘ n gegewe en ons boer nie daarsonder nie . Ons gebruik die mikroklimaat onder die nette om produksie te beïnvloed omdat ons nie hormone en ander chemiese middels gebruik nie ,” verduidelik Gog .
“ Ons klimaat is hard en van die uiterstes . Voëls vreet ook groot gedeeltes van die oes as daar nie nette is nie . Die nette keer feitlik almal uit en as dit goed onderhou word , is dit suksesvol . Jy kry nie net beter produksie nie , maar ook beter water- en kunsmisbeheer ,” sê hy .
Uitdagings kom vir Gog vanself . “ Die natuur is waarmee ons werk en dinge soos ryp en onverwagse reën is wat ons kopseer gee . Daarom plant ons tafeldruiwe op grond in warmer areas wat hoër geleë is . Maar danksy ons manier van boer , kry ons soms hoër premies op ons produkte – met die rosyntjies , tot 30 %. Ons gebruik selfs reusewaaiers om die grond in die koue tye warmer te hou ,” vertel hy .
“ Maar dit is die mense van die Noord-Kaap wat maak dat jy suksesvol kan boer , want ander tye wil jy eintlik net brandewyn drink ,” spot hy .