Nicol hou sy vaste arbeidsmag klein en gebruik kontrakwerkers in seisoentye om koste te beperk. Hy beplan ook om met materiaal van Agrimark Vredendal’ n netstruktuur oor die appelkoosaanplantings op te rig om skade deur voëls te beperk.
“ Wanneer die appelkose ryp en soet is, is daar niks anders in die omgewing vir die voëls om te vreet nie, so hulle kan groot skade aanrig. Die nette sal ook die bome teen die middagwinde beskerm, veral in Oktober wanneer hulle uit die suide waai.”
Daar kan moontlik’ n bietjie humiditeit onder die nette opbou, maar Nicol glo dit kan ook daartoe bydra dat die vrugte vinniger ryp word. Hy sal die uitwerking daarvan noukeurig monitor. Die nette behoort terselfdertyd beskerming teen voëlskade en die sterk middagwinde te bied. Hy verwag dat beter gehalte vrugte en beter uitpakke die koste van die nette sal regverdig.
“ Sover my kennis strek, is dit die eerste aanplantings van uitvoerappelkose en makadamias in die omgewing. Tot dusver lyk die resultate belowend. Ek was nog altyd bereid om risiko’ s te neem en iets nuuts aan te pak. Ek glo ek kan hiermee sukses behaal en dat die meeste uitdagings met tegnologie oorkombaar is.”