“ Tegnologie maak dat jy feitlik enigiets op enige plek kan laat werk. Ek het in elk geval toe reeds die bome aangeplant.”
Volgens Nicol is makadamias nie so moeilik om mee te boer nie, mits die plantmateriaal, voeding en grondgesondheid reg is. In KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo word groot oppervlaktes aangeplant en hoef die bome dikwels nie besproei te word nie, maar die siektedruk is daar hoog.
Met die tweede aanplanting’ n paar jaar gelede het hy 6 ha met kultivars soos Nelmak en A4 aangeplant. Dié aanplanting het sowat R100 000 beloop, maar toe het hy geweet waarna om te kyk. Die ervaring met die eerste bome het hom geleer dat’ n swak begin later moeilik reggestel kan word. Plantmateriaal, wortelontwikkeling en die voorbereiding van die grond moet van die begin af reg wees.
“ As jou bome nie reg is nie, gaan dit nie werk nie. Gelukkig is ons klimaat reg vir die bome. Hulle soek goedgedreineerde grond, en die grond waarin ek hulle geplant het, is feitlik’ n sandduin.”
Grondgesondheid bo chemie
Nicol het baie organiese materiaal, insluitend droë druiwedoppe, in breë stroke in die boorde ingestrooi. Dit het vanself gekomposteer, soveel so dat daar nou selfs sampioene onder die bome groei, al styg die temperatuur op sommige somersdae tot bo 40 ° C.