In die ruim en ultramoderne pakstoor verduidelik Wayne die proses waardeur die vrugte gaan, vanaf die ontvangs van die vrugte van produsente totdat die vrugte die aanleg vir verdere verspreiding verlaat. Hy beklemtoon die belangrikheid van gehalte en dat elke vrug aan internasionale standaarde moet voldoen. Aspekte soos kosmetiese afwykings, algemene voorkoms, interne vrugkwaliteit en die uitvoering van VKM-evaluerings om aan wetgewing van die Europese Unie te voldoen, word nagegaan. Alle kratte word elektronies in die sagtewarestelsel onder elke produsent se unieke vrugrekeningnommer geregistreer om volledige naspeurbaarheid te verseker.