“ Ons fokus daarop om die regte kultivars vir die regte markte op die regte tyd te lewer. Ons moet sorg dat ons druiwe in die vensterperiodes pas wat in spesifieke markte geskep word.
Daarom doen ons kultivarontwikkeling en is ons voortdurend op soek na nuwe kultivars wat in ons skedules en tydgleuwe, en natuurlik ook in ons omgewing, inpas. Ons uitvoere word gedoen deur die uitvoermaatskappy Exsa,’ n produsentegroep wat jaarliks in die omgewing van 5 milj. kartonne uitvoer. Om’ n verskeidenheid oorsese supermarkte te kan diens, het jy volumes nodig wat oor’ n lang tydperk in verskillende areas geproduseer word. En daarin lê die groot waarde van’ n produsentegroep,” verduidelik Gabriël.
Volgens hulle gaan die hele proses oor goeie verhoudings, hetsy in die pakstoor, waar meer as 60 % van hul seisoenale werkers elke jaar terugkeer, tussen mekaar, of met hul uitvoerder en kliënte in oorsese markte.
“ Wat ons uniek maak, is dat ons goed met mekaar oor die weg kom en elkeen sy eie kundigheidsveld bestuur. Familiebesighede is soms kompleks, maar ek kan absoluut my passie en liefde vir tafeldruiwe uitleef, terwyl Gabriël sy passie kan uitleef. Ons vul mekaar baie goed aan en streef daarna om eendag’ n gesonde, volhoubare besigheid aan’ n volgende geslag Viljoens te kan oordra,” sê Reynecke.