Die Viljoens van De Vlei is toegewyde tafeldruifboere met’ n lang geskiedenis in die Hexriviervallei. Vandag is dit Gabriël en Reynecke wat die fakkel verder dra. Die Viljoen-broers is nou, saam met pa Leon, verantwoordelik vir die bedryf van De Vlei, met Gabriël wat na die finansies, struktuur en kontrakte omsien, en Reynecke wat verantwoordelik is vir die tegniese aspekte, produksie in die wingerde en proewe met die druiwestokke. Hulle bedryf ook plase op Vioolsdrift, Trawal en Piketberg.
Jare se betrokkenheid in die tafeldruifbedryf spreek vanself, maar wat besonders uitstaan, is die jongste geslag se wetenskaplike benadering tot produksie en die erns waarmee hulle boer. Volgende jaar vier die Viljoen-familie reeds 130 jaar van bewerking en bewaring op De Vlei.
1. Reynecke en Gabriël Viljoen boer saam op De Vlei – Reynecke is verantwoordelik vir die wingerde en alles wat daarmee saamgaan, terwyl Gabriël meer aandag aan die administratiewe kant van die bedrywighede gee.