In die pakstoor is Dawid Louw in beheer en bestuur hy sowat 90 mense wat die druiwe ontvang, sorteer en verpak. Verkoeling word deur watermure verseker, wat terselfdertyd die vogtigheid op omtrent 67 % hou. Só word gehalte beskerm en die druiwe onder optimale toestande vir uitvoer voorberei. Met gemotiveerde personeel, soos Lucricia Visagie, wat reeds as plaaswerker van die jaar deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou aangewys is, word tot 4 000 kartonne per dag gepak. Dit kan tot omtrent 6 000 styg wanneer los druiwe verpak word.
Bloubessies en avokado’ s is ook deel van Rooted se uitvoeronderneming. Die bloubessies word landwyd verbou, met van die grootste volumes wat uit die Wellington-omgewing kom. Dit vul die tafeldruifseisoen mooi aan: wanneer die druiwe klaar is, begin bloubessies, en hou hulle besig tot diep in Desember, net voordat die volgende tafeldruifseisoen weer afskop.
“ Dit los ons darem met Mei vir’ n bietjie jag en visvang,” lag Ryno.
8.’ n Watermuur waaroor water vloei en lug deurgeblaas word, word gebruik in die verkoelingsproses by die pakstoor.