5. Die pakstoor is die hartklop van die uitvoervoorbereiding en in die hoogseisoen is honderde werkers hier werksaam.
Twee ondernemings, een geïntegreerde visie
“ Vandat ons met Rooted begin boer en bemark, is ek en Maja saam in’ n span, bygestaan deur’ n groep lekker mense wat ons help. Voor Rooted het ek vir 20 jaar by ander ondernemings in die vrugtebedryf gewerk, onder meer Capespan, Delecta Fruit, Grape Alliance en Food Lover’ s Market,” vertel Ryno.
Hulle bedryf vandag in wese twee besighede: die plaas met sy tafeldruiwe, en dan Rooted Global Fruit, wat op bemarking en uitvoer fokus.
“ Ons het gou besef dit is nie goed om al jou eiers in een mandjie te sit nie. Die lewensvatbaarheid van sagtevrugte, en spesifiek in ons geval tafeldruiwe en bloubessies, hang baie af van beheer oor die hele waardeketting. Dit was vir my belangrik om self te kan besluit waar jou produk verkoop word, en aan wie. Om die lewensvatbaarheid van’ n plaas soos hierdie te beskerm en die stokkie aan’ n volgende geslag oor te dra, moet jy beheer neem van die totale produksie- en bemarkingsketting.