LROosglansEastglam_ Volume 02 Maart_April | Page 13

Entrepreneurskap TACO-KOMBI – entrepreneurskap op wiele Artikel: Helena Goosen Foto’s: Valjean Joubert T oe Valjean Joubert en sy vrou, Christine, in 2009 op ’n werksvakansie van drie maande in Kalifornië was, het hulle verknog geraak aan die Meksikaanse eetkultuur, veral in die suide van dié staat. Die smullekker, gesonde koskombinasies het hulle oortuig alle Meksikaanse disse is nie skroeiwarm konkoksies wat jou sluk verbrand en jou oë laat traan nie. Die egpaar het begin droom oor ’n voedsame Meksikaanse eetstyl in Suid-Afrika met sy reënboogspektrum van kleure, geure en smake. In die besigheidshart van New York het die idee aan ’n eetwa op wiele in hul tuisland toe vlam gevat. Weens hul veeleisende beroepe kon hulle egter eers drie jaar later dié konsep verder uitbou. Mense raak deesdae uitgekuier by restaurante en die gewone kitskos-venues, meen Valjean, en soek afwisseling. In die VSA is daar meer as 12 000 voedseltrokke wat kos na klante neem en ’n wye keuse van spyse bied. Dié mark is in Suid-Afrika grootliks onontgin. Terug in Pretoria het Valjean buite die boks gedink om ’n splinternuwe nis in die plaaslike spyseniersbedryf te ontgin – maaltye op wiele. En waar kry jy ’n voortrefliker voedselvoertuig as die alombekende en volop teenwoordige kombi in Suid-Afrika met sy kleurryke bussie-kultuur. Valjean het toe afgeleefde kombi’s van die wrakwerf gered en hulle vernuftig in sy agterplaas omskep in doelgemaakte, funksionele koswaentjies. Elke kosmobiel is volledig toegerus om warm en koue eet- en drinkgoed via ’n bedieningsluik cum afslaanblad te verskaf. Elkeen spog met ’n eie persoonlikheid: Raoule, getooi in rissierooi, Eduardo wat pronk met bloubul-aksente, Hernandez in raaksien-oranje en hul Stellenbosse neef, Fernando, wat deesdae uithang in eikegroen. Dié knap entrepreneur en sy medebestuurders neem hul kombi’s gereeld na Saterdag-markte in Pretoria. Hulle doen ook spyseniering vir spesiale geleenthede. Die kombi’s is van vroegdag tot laataand beskikbaar om keurige, kraakvars Meksikaanse taco-geregte op jou drumpel te lewer – elke porsie knussies verpak in ’n tortilla (pannekoekomhulsel). ’n Wye keuse van speserye en salsas (souse) verseker ’n liplek-lekker smaaksensasie vir elke klant. Waagmoediges kan selfs ’n knertsie van die berugte vuurwarm habanero-rissiesous probeer! Selnommer: 083 333 5633 e-pos: [email protected] Webwerf: www.tacokombi.co.za Maart/April 2016 / March/April 2016 Oos East lans lam Oos lans 13