Lourier Eerste Uitgawe 2019 Lourier Eerste Uitgawe PDF 2019 | Page 26

Koshuis Deur Tammi Otto Die koshuis van die Hoërskool Grens is so belangrik vir elke leerder wat hier bly en ek praat nou spesifiek met julle, my fami- lie. Julle is die mense wat ek dag en nag sien, oor naweke en om 6:40 wanneer daar nog slaap in my oë is. Ons is ‘n familie; ons beskerm mekaar sonder om dit eers agter te kom. Soms is dit om nie vir Vaatjie of Romario te “piemp” as hulle op die deur kap nie en ander kere is dit om vir Rudy of Vaatjie jou laaste pakkie noodles te gee of ‘n laaste bietjie Oros, want jy kan nie vir hulle nee sê nie. Soms is dit om maar vir een van jou “susters” jou laaste R20 te gee, want jy sal enige iets vir hulle doen en ander kere is dit om jou splinternuwe rok uit te leen, want jy weet jy het jou oog op die mooi toppie in hulle kas vir ‘n oulike Sondag outfit. Ons is lief vir mekaar, maar niemand sal dit ooit hardop sê nie. 25 Ons gaan mekaar oor tien jaar mis wanneer ons ‘n storie vertel oor wat een middag of een aand in die koshuis gebeur het. Dan gaan dit ons tref: ons het ‘n familie geword; elke liewe kind het ‘n plekkie in ‘n mens se hart gehad. Ons sal beslis die volgende onthou: Laataandstappies na die kombuis om vir ons broodjies te maak, die hele gang se ligte aan te sit omdat die badkamer twee kilometer verder in die aand lyk, vier op ‘n enkelbed, want jy weier om in jou eie kamer alleen te slaap, want Sofie loop en vee of die Coin val of jy is bang jy word vasgedruk. Maar in al daardie tyd weet jy altyd: jy het iemand nodig om veilig by te voel; jy weet altyd jy het ‘n skouer om op te huil. Jy weet jy het ‘n “broer” of ‘n “suster” wat daar vir jou sal wees. Daarom moet ons altyd vir mekaar omgee, mekaar respekteer en mekaar se belange op die hart dra.