Lourier Eerste Uitgawe 2018 LOURIER TWEEDE UITGAWE DESIGN 2 met fotos | Page 12
graad 8
wie is ons Nuwe graad 8-leerders?
Deur Sherine van Zyl
Met angs en vrees vir die onverwagte het die graad aggies van 2018 die ‘groot skool’ aangedurf. Hulle
is met ope arms verwelkom, al moes hulle eers ‘n bietjie hulle voete vind. Van groot ego’s tot klein
leeuwelpies het hulle die verwelkomingstydperk oorleef en het as nuwe potensiële leeus hierdie typerk
verlaat om ten volle deel van Hoërskool Grens te word.
“Ons het almal verskillende mense beter leer ken,” het Anke du Toit, ‘n medewelpie oor haar ervaring
tydens verwelkoming gedeel. “Dit was opwindend en interessant. Niemand wou so laf aantrek soos
ons moes nie, maar ten minste het ons elkeen besef dat dit nie net jy is wat so moes aantrek nie, maar
die hele graad.”
Sommer vroeg-vroeg het die welpies en hul Konings en Koninginne na Lekkeroord vir die graad-8-kamp
vertrek, waar hulle sommer mekaar leer ken het.
“Ons het ‘n klomp nuwe aktiwiteite gedoen. Ons het geleer hoe om as ‘n groep saam te werk en om
geduldig met mekaar te wees. Ons het ook nuwe eienskappe van mekaar ontdek,” het Anke gesê.
Vir die volgende paar weke van die verwelkomingstydperk het die graad aggies nie net probeer om
water uit ‘n klip te tap om die leerlingraad se handtekeninge te kry nie, maar het hul ook ‘n bietjie
geleer sokkie, met mekaar gesels en mekaar beter leer ken.
Na die tydperk, wat vir die graad ags asook die Leerlingraad, soos ‘n ewigheid gevoel het, het die
Wakkerbly-aand aangekom. (En dit kon net nie vinnig genoeg kom nie!). Daar was gemengde
gevoelens oor die aand tussen die welpies. Met vrees vir die spooktonnel tot opgewondenheid vir die
boeresport het die welpies hierdie 12 ure aangedurf.
“Dit was vir my baie opwindend en interessant. Ek het dit baie geniet en is baie bly en glad nie spyt dat
ek daar was nie. Al die aktiwiteite wat ons gedoen het, was in ‘n groep. So kon ons mekaar se geduld
toets asook ons ondersteuning en hulp onder mekaar.”
So het die welpies tot ‘n punt gekom om uiteindelik volwaardige Grensies genoem te word. Mag hulle
groei tot hulle volle potensiaal sodat hulle eendag die skool met ‘n volwasse brul kan verlaat.