Lourier Eerste Uitgawe 2018 LOURIER TWEEDE UITGAWE DESIGN 2 met fotos | Page 11
graad 8
‘N DAG UIT DIE OË VAN ‘N
GRAAD 8-GROENTJIE
Deur Sherine van Zyl
Ek word wakker en trek my asemrowende grys, knie-
lengte skoolrok aan met my pragtige blink swart skool-
skoene. Ek teken my verpligte unibrow en snorbaard op
en kry my melkies en kosblikkie. Toe is ek reg vir die dag!
Ek klim in die kar en hier gaan ons! Ek het so ‘n snaakse
gevoel binne my maag wat ek nie kan verduidelik nie;
my ma sê dis spanning of so iets… Wat dit beteken, weet
ek nie!
O vrek! Net soos ons die tronkhekke binnegaan, besef ek
dat ek nie my naambordjie gevat het nie en die snaakse
gevoel binne my raak net erger. Die prefekte! Wat gaan
hulle sê?! Ek kry my sak, gevul met AL my boeke, net
ingeval ek die ander nodig het. Soos ek die lang pad
boom toe aandurf, stap ek verby al wat ‘n prefek is en
met die spanning en al, skep ek nuwe individue - Kyla
van Heerden, Bradley Schoeman, Sherine du Toit en Anje
van Zyl. Ek kon nie dadelik verstaan hoekom hulle my so
vreemd aankyk en net omdraai en loop nie, totdat ek by
my handtekeninglys kom en sien…
Ek het my boom gevind en met alle selfbewustheid oor
my vergete naambordjie, my tas neergesit en saam met
my maatjies gaan besluit oor wie van die prefekte se
handtekeninge ons vandag gaan vra. Die klok lui en ons
kyk dadelik op ons dagroosters in watter klas ons al weer
is en vind ons ry.
Die vreemde oom met die grys baard- as ek reg kan
onthou, is dit die skoolhoof- praat met ons oor iets van
n trein en ‘n passasier. Die vreemde gevoel binne my
maag het my nie toegelaat om die res van die storie te
hoor nie, maar ek was seker ek sou dit een of ander tyd
weer hoor.
Ons het na ons klasse toe verdaag, waar ons som-
mer na die eerste periode toe gegaan het: Wiskunde.
Aan die einde van hierdie periode was ek totaal en
al moeg vir x’e en y’e en sommer vir die res van die
alfabet ook. Ons volgende periode was ‘n toesigperi-
ode en was dit nou vir jou ‘n raaisel! Na ‘n rondwalery
in albei gange en ‘n in-en-uitlopery by omtrent 20
klasse, het ons ons toesigklas gekry- klaskamer 32
(Juffrou Dreyer se klaskamernommer). Ek kon nie die
graad 11’s se reaksie verstaan toe die juffrou ons die
klaskamernommer gee nie, maar ons almal het toe
soos eendjies na die Skeinatblok marseer. Dis eers toe
ek vir Juffrou vra hoe laat dit is, toe ek die graad 11’s
se reaksies verstaan.
Na ‘n periode wat soos ‘n eeu gevoel het, het die klok
vir pouse gelui. Ek kry toe vinnig my kosblikkie en
loop reguit saal toe, waar ons die skoollied probeer
sing het. Net toe ek dink ons kry dit uiteindelik reg,
word daar vreemd na ons gekyk asof ons die ritme
heeltmal verkeerd kry.
Die volgende drie periodes het verbasend vinnig
verby gegaan totdat een van die juffrouens my na ‘n
ander klas gestuur het om ‘n boodskap oor te dra.
Ek was heeltmal gewillig totdat ek die klaskamer bin-
negaan en ‘n hele klas vol matrieks se oë na my sien
staar met verwagting. ‘’n Grappie!?”, het ek vir myself
in spanning gevra. Ek het soos een van daardie wit
standpilare voor hulle gestaan, totdat die juffrou my
van my vrees verlos het.
Tweede pouse het gekom en ek en my vriendinne het
probeer om handtekeninge te kry. Na ‘n paar
minute van moed bymekaar skraap, het ek besluit
om die een prefek te gaan vra. Als het glad verloop
totdat ek my liefde aan een van die prefekte se kêrels
moes gaan verklaar. Ek het dit toe gaan doen, maar
het haar heeltemal vir die res van die pouse vermy.
Voor ek my oë uitgevee het, was die skooldag verby
en het ek my op pad huis toe gevind. Ek weet die dae
is stresvol, maar ek glo dat ek dit als sal onthou die
dag wat ek vir die laaste keer by hierdie skool uitloop.