koshuis
ons is lief vir ons KOSHUIS! Deur Tiffany Brown
2018 skop af met heelwat nuwe mense of in ander woorde, BRAKKE, in die koshuis. Hulle het gou aan die koshuisleefstyl gewoond geraak en verstaan nou hoekom‘ n koshuiskind altyd moeg of honger is. Al die koshuisinwoners het dit vir die nuwe BRAKKE gou aangenaam gemaak sodat hulle kan sien die koshuislewe is glad nie sleg nie. In die koshuis leer almal elke dag iets nuut en as iemand iets verkeerd doen, sal ons mekaar help. Almal het natuurlik hulle eie probleme, maar ons maak seker ons is daar om‘ n skouer te gee. Ek het‘ n paar van die nuwe BRAKKE gevra waaraan hulle nog nie by die koshuis gewoond is nie. Kom ons hoor wat hulle sê:
Storm Wiessener |
Ek is nie gewoond dat almal by my kos vra nie. |
Tammi Otto |
Ek is nog nie aan die kos en klokke gewoond nie. |
Emile Johannes |
Die feit dat die deure om 20:00 moet sluit. |
Aimee Odendaal |
My vryheid is beperk en ek is nog nie daaraan gewoond nie. |
Kyna Wiessener |
Ek is nog nie gewoond aan die seuns wat altyd om die meisies is nie. |
Al die koshuiskinders het maar daardeur gegaan en daaraan gewoond geraak. Baie van die nuwe brakke het nog nooit in‘ n koshuis gebly nie. So vir hulle om die koshuislewe te ervaar, moet iets anders wees. Die koshuis bou jou karakter en maak dat jy begin besef wie jy eintlik is en wie jy wil wees. In die koshuis is ons‘ n familie, ons help mekaar as ons iets nodig het, gee vir mekaar‘ n skouer om op te huil as daar een nodig is en dan die belangrikste: ons probeer altyd eerder om mekaar op te bou as om mekaar af te breek. Koshuiskinders is van die mense wat nooit nee sal sê as iemand vir hulp vra nie en glo my, al wil die seuns dit nie aanvaar nie, maar ons almal is tog broers en susters. So aan al die nuwe brakke in die koshuis: mag julle koshuislewe vol avonture en ervarings wees. Onthou: jy is nooit alleen nie.