Grond tot Mond Mei 2026 - Uitgawe 35 | Seite 89

GROENTE | ENDEBENI AGRICULTURE

Ons klim in sy Polaris 4x4-ATV wat feitlik enige plek kan ry om die plaas te gaan verken, maar vashou is die wagwoord. Dis duidelik dat Waldo hierdie paadjies, as jy dit so kan noem, gereeld ry en gewoond is aan die Polaris se ryvermoë, nogal verrassend stabiel deur die verspoelde grondpaadjies en oor klippe wat oral lê.

Ons ry deur die landerye met sy ry-op-ry-groente en-kruie. Waldo wys ons die eiervrugte wat nou die einde van hul lewensiklus bereik. Dit is al in September verlede jaar geplant en word elke week geoes, afhangend van die groeitempo en hoe gou dit ryp raak en die regte grootte bereik. Reuse-donkerblou of byna pers eiervrugte hang volop aan die plante,’ n aanduiding van die vrugbaarheid van die grond.

RIJK ZWAAN-SAAD WAT VIR DIE VARS- MARK WERK Vir’ n produsent soos Waldo Staude, waar babaspinasie weekliks geplant en grootliks meganies geoes word, begin betroubare produksie lank voor die eerste blaar gesny word. Rijk Zwaan ontwikkel spinasievariëteite spesifiek vir die varsmark, met die klem op’ n mooi produk, langer raklewe en gesonde, skoon blare vir die verbruiker. In hul teelwerk speel weerstand teen siektes’ n groot rol, maar eienskappe soos eenvormige groei, goeie ontkieming en stadige blomvorming is net so belangrik. Dit help produsente om’ n meer betroubare oes te kry, veral waar spinasie gereeld gesny en vinnig na die mark moet beweeg. Só dra die regte saad by tot’ n sterker, meer volhoubare varsproduklyn.

MEI 2026 GROND TOT MOND 89