NUUS | BROKKIES
Marietjie Brink sê hulle gebruik kalk by die enigste ingang na die plaas en spuit met besoek van gaste ook F10 op bande en plekke waar modder kan spat. Al is hulle in’ n afgesonderde area, glo sy dit is juis nodig om hulself te beskerm.
“... hulle strooi gebluste kalk by hekke en krippe, en gebruik Steritab-tablette in krippe om virusse en bakterieë in water te help beperk.”
Ilze Bam noem ook kalk by ingange en F10 om voertuie te spuit. André Goosen sê hulle strooi gebluste kalk by hekke en krippe, en gebruik Steritab-tablette in krippe om virusse en bakterieë in water te help beperk. Tjaart van der Merwe sê hulle het soortgelyke stappe tydens voëlgriep gevolg. Jaco en Hanli Nel wys daarop dat produsente ook mooi moet dink oor die grootte van die kalkstrook. Volgens hulle vergeet mense maklik dat’ n trok se wielomtrek sowat 3 m is, en dat’ n trekker se agterwiel selfs groter kan wees. Die kalkstrook moet dus lank en breed genoeg wees om werklik effektief te wees. Hulle noem ook GPC8 van Bitek as’ n produk wat volgens hulle vir BKS geformuleer is en vinniger en langer werk. Die gesprek wys dat daar nie net een resep vir biosekuriteit is nie, maar dat boere praktiese planne maak met wat vir hul omstandighede werk.
28 GROND TOT MOND MRT 2026