Grond tot Mond Junie 2026 - Uitgawe 36 | Page 103

NETTE

Wouter Visser van FORE Engineering Solutions beklemtoon dat elke netstruktuur vir sy spesifieke gebruik en toepassing ontwerp moet word. Party produsente het permanente oorhoofse strukture nodig, terwyl ander goeie resultate met drapeernette kan kry. Denné Strydom van Giraffe, wat in die Krakeelrivieromgewing boer, gebruik albei stelsels. Hy sê drapeernette is goedkoper en makliker om te installeer as meer komplekse oorhoofse strukture, veral in ouer boorde wat oorspronklik vir oop produksie uitgelê is. Hy wys ook daarop dat verskillende kleure en skadufaktore by verskillende kultivars pas. Op sy plaas werk swart nette beter by kultivars soos Packham-pere, Golden Delicious en Granny Smith-appels. Grys nette werk weer goed by kultivars waar kleurontwikkeling belangrik is, soos Royal Gala, African Carmyn en Braeburn. Die regte skadukeuse kan rypwording, kleurontwikkeling en die vloei deur die boord en pakhuis ondersteun. Dit is praktiese besluite wat op die ou end in die krat en op die mark gesien word.

JUN 2026 GROND TOT MOND 103