BOORDTEGNOLOGIE
Met toenemende druk op produsente om winsgrense te verbeter en volhoubaar te produseer, raak presisieboerdery al belangriker. Boordtegnologie speel’ n groot rol in vrugteproduksie en vereis deurlopende verbetering van metodes en hulpmiddels. Dit sluit in besproeiing, kunsmistoediening, plant- en snoeitegnieke, en robotika vir dataversameling. Dataversameling en-analise en die integrering van sagteware om moderne stelsels te bedryf, is van die belangrikste.
IN HIERDIE ARTIKEL:
• Dataversameling en-analise lê die grondslag vir effektiewe tegnologie-toepassing.
• IoT-besproeiingstelsels verminder energieverbruik en bestuur water en kunsmis kostedoeltreffend.
• Beheer van verdamping vir meer doeltreffende chemiese toediening.
• Nette verbeter produkgehalte en verminder risiko, met versekering as tweede linie van verdediging.
• Sonkragstelsels verlaag kostes en verhoog doeltreffendheid met KI-optimalisering.
• Meganiese innovasies en die beplanning van nuwe boorde.
DATAVERSAMELING EN-ANALISE
Nuwe tegnologieë maak dit moontlik om data vinnig en akkuraat in te samel, te verwerk en toe te pas vir beter boordebestuur. Volgens Talitha Venter van die Universiteit Stellenbosch se Suid-Afrikaanse Druiwe- en Wynnavorsingsinstituut( SAWGRI) is daar drie kernstappe: versameling, analise en praktiese toepassing.
AUG | SEP 2025 GROND TOT MOND 105