In 1907 is ds . Kestell aangestel as redakteur van De Fakkel , ' n orgaan van die NG Kerk wat later met Die Kerkbode saamgesmelt het . Op 13 Januarie 1919 het hy afskeid van sy gemeente geneem en na Kaapstad vertrek om sy nuwe amp te beklee . In Oktober 1920 het hy na Bloemfontein teruggekeer toe hy as rektor van die Grey-Universiteitskollege aangestel is . Hy het hier ook as professor en hoogleraar in vaderlandse geskiedenis opgetree . Onder sy leiding het die universiteit ' n groot bemarkingsveldtog , waaraan hy self deelgeneem het , van stapel gestuur en waardeur die universiteitskollege gesonde groei getoon het . In Augustus 1925 wou hy die rektorskap bedank , maar die raad wou dit nie aanvaar nie en hy het eers in 1927 uit hierdie amp getree .
Hy het hom vroeg reeds aan die kant van Afrikaans in die stryd teen Nederlands geskaar en in Junie 1909 was hy een van die stigterslede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal , Lettere en Kuns . Die Stellenbosch tak van die Afrikaanse Taalvereniging het hom genooi om op 22 Oktober 1909 ' n lesing te hou waarin hy gepraat het oor “ Die uitdrukkingsvermoë van die Afrikaanse taal .” Toe hy in 1920 die rektorskap van die Grey-Universiteitskollege oorgeneem het , het hy ' n lesing oor Afrikaans as medium op universiteitskolleges gehou om die studente aan te moedig om die amptelike erkenning van Afrikaans as onderrigtaal prakties toe te pas .
In 1916 het die Vrystaatse sinode van die NG kerk besluit om Afrikaans amptelik te erken en die Bybel in Afrikaans te vertaal .
Die eerste Afrikaanse Bybels ( 1933-vertaling ) kom uit Londen in Kaapstad aan . Dié vertaling van die Bybel is deur JD du Toit , EE van Rooyen , JD Kestell , HCM Fourie en BB Keet in opdrag van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap gedoen .
Ds . Kestell was ' n gewilde spreker by openbare geleenthede en tydens die Volks-en-Geloftefeesviering op 16 Desember 1929 het hy oor die betekenis van Geloftedag en die rol van die vrou tydens die Groot Trek gepraat . Op 17 Februarie 1938 het hy tydens die Blaauwkrantz-eeufees ' n ernstige pleidooi gelewer dat die Afrikaner sy volksgenote moes help . Hy het dit op 16 Maart 1938 met ' n soortgelyke pleidooi in Bloemfontein opgevolg . Hy was die dryfkrag agter die stigting van die Reddingsdaadbond in 1938 , wat armblankes sou ophef . Hierdie bond het aanvanklik onder leiding van dr . Nic Diederichs , latere minister van finansies en staatspresident , gestaan . Toe die hoeksteen van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1938 gelê is , was ds . Kestell ' n eregas . Die Voortrekkerbeweging het in September 1940 die orde van die Vriend van die Voortrekkers aan hom toegeken .
Die Bybelvertalingskommissie is in samewerking met die Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk saamgestel . Ds . Kestell was die voorsitter van hierdie kommissie wat die vertalers moes aanstel . Hul taak was om die Nederlandse Statenbijbel in Afrikaans te vertaal , maar hierdie poging het misluk en daar was te veel besware teen die vertaalproewe . Hierna het die Sinode van die NG Kerk ds . Kestell in 1923 aangewys as voorsitter van die Bybelvertalingskommissie om die Bybel uit die oorspronklike Grieks en Hebreeus te vertaal . In hierdie hoedanigheid was hy medeverantwoordelik vir die eerste Bybelvertaling in Afrikaans . Aanvanklik was Totius en prof . BB Keet as eindvertalers aangewys maar nadat die Universiteit van Stellenbosch geweier het om prof . Keet van sy normale pligte vry te stel , is ds . Kestell in sy plek as eindvertaler aangewys . Nog drie vertalers , HCM Fourie , EE van Rooyen en BB Keet , wat later wel toestemming by die Universiteit van Stellenbosch gekry het , is later aangewys om hulle in hierdie taak by te staan . Ds . Kestell was hoofsaaklik verantwoordelik vir die vertaling van die Nuwe Testament , wat hy reeds in November 1926 voltooi het . In Augustus 1933 was die eerste gedrukte Bybels in Afrikaans beskikbaar .
JD Kestell se begrafnis
Op Sondag 9 Februarie 1941 is ds . Kestell in die ouderdom van 86 jaar in sy huis in Bloemfontein aan asma oorlede . Hy is saam met pres . MT Steyn en genl . Christiaan de Wet , wat medelede van die Vrystaatse Driemanskap was , by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein begrawe . Die dorp Kestell in die Vrystaat is in 1905 gestig en na hom vernoem .
Daantjie Badenhorst
5 AFRIKAANS