Flink Januarie 2024 56 | Page 39

Wat is , vir jou persoonlik , ' n groot passie in jou werk wat die grootste genot bring en wat jou opgewonde maak oor jou werk ?
Jaco : Om die verhaal van die Groot Trek en die Afrikaner se geskiedenis vir mense lewend , tasbaar en toepaslik te maak .
Charles : Dit bring my die meeste genot om te weet mens het die mag om werklik ' n verskil te maak . Ek stap elke dag met ' n trotse bors by die werk in , reg vir die dag met die wete dat die FAK meer as net ' n sangbundel is .
Jan-Danie : Om mense te kan sien opgewonde raak oor ons Afrikanererfenis , om die geskiedenis sonder vernis te laat glans in mense se hart . Dit is ' n groot voorreg om deur die FAK ook my mense te kan dien .
Elizma : Geleenthede om met die nasate van Afrikaners , wat impak gemaak het op die gebied van taal , geskiedenis , erfenis of kultuur , kontak te maak , hul stories te hoor en saam met hulle die nalatenskap van so ' n persoon te huldig met ' n mooi funksie wat tot mense spreek .
Juanine : Om ons storie en erfenis met ander te kan deel deur ervarings .
As jy saam met enige persoon uit die Afrikanergeskiedenis kan koffie drink , wie sal dit wees en hoekom ?
Jaco : Dis moeilik om een uit te sonder . Daar is drie met wie ek graag sou wou koffie drink , Andries Pretorius , Paul Kruger en Christiaan de Wet .
Charles : Piet Retief . Die man wou so graag ' n toekoms vir sy mense en nageslagte skep dat hy alle waarskuwings van verskeie persone oor koning Dingaan se motiewe van die hand gewys het . Hy was ' n held en sal hom op ' n reis wil neem om te wys hy het nie verniet gesterf vir sy land nie .
Jan-Danie : Generaal De la Rey , om die “ hoe ” uit te vind van sy strategiese suksesse , ek is seker as mens , is sy nederigheid en diensbaarheid vir sy mense ' n aansteeklike eienskap wat elkeen by sal kan baat .
Elizma : Sonder twyfel Marie Koopmans-de Wet . Haar lewensverhaal boei my . ' n Sterk , dinamiese maar nederige vrou wat in haar leeftyd ( 1835-1906 ) impak gehad het op vele terreine , standpunt ingeneem het , hard gewerk het , nie teruggedeins het voor teenkanting nie en gedoen het wat nodig is . Sy het die belangrikheid van erfenisbewaring , hetsy geboue , monumente of oudhede , begryp . Haar ingryping het byvoorbeeld die Kasteel in die 1800 ' s teen skending en selfs sloping beskerm en haar woning met waardevolle skilderye en oudhede wat sy versamel het , is vandag die oudste huismuseum in die land . Ook was mense vir haar belangrik . Die behandeling van vroue en kinders tydens die Anglo-Boereoorlog het haar teen die bors gestuit . Haar volgehoue aksies vir hierdie saak , reeds op ' n gevorderde ouderdom , het daartoe gelei dat sy onder huisarres geplaas is . Ook in ander sake soos die beskerming van taal , preservering van historiese dokumente , bevordering van musiek , natuurbewaring , bevordering van onderwys en noodleniging het sy leidende rolle gespeel . Ek dink sy sou vandag ' n baie suksesvolle kultuurorganiseerder wees by wie ek baie sou kon leer .
Juanine : Danie Theron . Hy was die stigter van die Theron Verkennerkorps wat per fiets aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het . Hy het die Britte goed laat les opsê , soveel so dat Lord Roberts hom as die “ langste doring in die vlees van die Britse opmars ” beskryf het . Ek sal by hom wou hoor hoe fietsroetes daai tyd beplan is , watter voorbereidings getref is en hoe gemaak is met teëspoed langs die pad . Ek sou wou weet of ek ook sou kwalifiseer om deel te wees van sy korps .
Wat is jou gunsteling- Afrikanerbaken / erfenisterrein / monument / gedenkteken en hoekom ?
Jaco : Kerkenberg en Die Kaalvoetvrou . Buiten vir die ryk geskiedenis van die plek is dit ook seker een van die mooiste omgewings in ons land .
Charles : Die Voortrekkermonument . Dit is ' n baken van hoop , ' n storie wat jou regtig inspireer .
Jan-Danie : Kerkenberg se magtige krans . Dis hier waar ek weer kan glo dat die kranse antwoord gee . Dit is hier waar ' n groot gedeelte van die wording van ' n nasie begin het en waar ek rustig kan dink oor die sleg en ook die goed wat dit gebring het .
Elizma : Nasionale Vrouemonument . Dis nie moontlik om onaangeraak daar weg te stap nie . Dis ' n diep geestelike ervaring wat inspireer en moed gee . ' n Besoek daar bring nie net ' n besef van die lyding van mense nie , maar ook van hoe geestelik en emosioneel sterk mense is .
Juanine : Anglo-Boereoorlog-monument . Die buitelugmonument is aan die voet van die Paarlberg op die pragtige Laborie- wynlandgoed opgerig . Dis opgerig vir die Kaapse Afrikaners , wat uit die Kaapkolonie , onder Britse bewind , die Boererepublieke van Transvaal en Vrystaat aktief ondersteun en simpatiekgesind was . Hulle is met die skelwoord Kaapse Rebelle , gebrandmerk en aangekla van hoogverraad en gefusilleer deur die Britse soldate . Hier , in die natuur , tussen die rotse , beelde en muurpanele kan jy peins oor die swaarkry en manhaftigheid van ons voorouers , vir vryheid en reg waarvoor die Kaapse Afrikaners ook saam gestry het .
Watter erfenisterrein , dink jy , moet op elkeen se emmerlysie wees ?
Jaco : Kerkenberg , Bloedrivier , Retief se graf .
Charles : Die Heldeakker-begraafplaas . Is jy lief vir geskiedenis ? Verskeie van die Afrikaner historiese figure se rusplek is hier , dit is ' n ongelooflike gevoel van trots wat mens daar ervaar .
Jan-Danie : Ek dink nie net een nie ; maar soos wat mens ry vir werk of vakansie stop by die terreine op jou pad , trek ' n paar bossies uit en herdenk jou voorgangers . Ons het vreeslik baie terreine , want ons is nie net een ding nie .
Elizma : Hugenotemonument en gedenkmuseum . ' n Wonderlike Franse ervaring , kompleet met ' n parfuummuseum .
Juanine : Kompanjiestuin in Kaapstad .
AFRIKAANS
38