kerkraadvergunning kon hulle nog vir ' n jaar in die pastorie aanbly , en Laurika het as tikster by die Grey Universiteitskollege gaan werk . Haar ouer suster Sophie het haar as onderwyseres bekwaam , en daarna ook geldelike bystand verleen . Daar was deurlopend ' n baie noue band tussen die twee susters . Nie een van die twee het in die huwelik getree nie .
In 1935 het Laurika op 32-jarige ouderdom ' n jaar onbetaalde verlof geneem om in Duitsland kunsonderrig te ontvang . In Berlyn is sy aan die bekende Duitse beeldhouer Milly Steger voorgestel , wat Laurika as leerling aangeneem en haar laat besef het dat sy in die eerste plek beeldhouer was , nie kunsskilder nie .
Laurika was in haar element , en het onder haar leermeester se leiding as kunstenaar en mens ontluik . Met haar lewenslus en spontane geaardheid het sy baie vriende gemaak , en terselfdertyd haar verlustig in die kunsskatte wat in vele museums te sien was .
Tyd vir pret was daar ook : in ' n brief aan ' n jonger suster vertel sy hoe sy die sosiale sy van haar verblyf geniet , en die attensies van ' n aantreklike Vlaamse professor moes hanteer !
Na haar terugkeer het Laurika in Bloemfontein vir die eerste keer betalende kunsopdragte ontvang . Dit het almal ' n Vrystaatse kleur gehad , en het borsbeelde van haar pa , ds . Kestell en presidente Steyn en Hoffman behels . Toe Oranje- Meisieskool haar vra om ' n lewensgrootte beeld van ' n Voortrekkerdogter te maak , het Laurika besluit om na Duitsland terug te keer en die werk daar te voltooi en te laat giet . Sy het haar pensioengeld getrek en na München vertrek , waar sy in haar Duitse vriendekring soos ' n ou bekende ontvang is . Sy het haar toelatingseksamen tot die Akademie der Bildenen Künsten met lof geslaag . Soos met die eerste besoek was Laurika se kunstenaarsintuie ontvanklik vir alles om haar , en het sy saam met medestudente ' n studiereis na Italië onderneem . Oorlogswolke het begin saampak , en voordat sy haar Voortrekkerdogter-beeld kon voltooi , moes sy na Suid-Afrika terugkeer . Haar professor het belowe om die kleibeeld nat te hou , omdat die oorlog nie te lank sou duur nie !
In haar ateljee in Bloemfontein het Laurika die Voortrekkernooientjie herskep , maar toe blyk dit dat Renzo Vignali van Pretoria-Noord wat die gietwerk moes doen , weens sy Italiaanse herkoms in ' n interneringskamp aangehou word . Gelukkig het die kunste tog een maal oor politieke vooroordeel geseëvier , want omdat niemand anders die werk kon doen nie , is mnr . Vignali vrygelaat om die gietproses waar te neem . Die beeld is in 1940 deur pres . MT Steyn se weduwee op die skoolterrein onthul , en dra die titel “ Vooruit ”.
Hierna het die Voortrekkermonument se fries gevolg . Laurika was verantwoordelik vir onder andere die paneel waar die vroue die mans moed inpraat . Laurika is die vrou tweede van links in die agterste ry , en haar suster Sophie die sittende vrou in die middel .
Een van Laurika Postma se panele in die VTM . Sy is tweede van links agter en haar suster Sophie regs onder .
Die Harmoniesaal ( tans die Breytenbachteater ) in Sunnyside , Pretoria , het as ateljee gedien vir ' n uiteindelike artistieke wonderwerk : vier kunstenaars het in minder as vyf jaar byna 200 lewensgroot figure ( elk ' n portret ), asook vele kleiner voorwerpe , waens , diere en landskappe in ' n kronologiese geheel saamgesnoer . Die voltooide kleipanele is in gips gegiet en na Italië verskeep , waar plaaslike klipkappers dit by Florence in duursame Querceta-marmer gebeitel het . Laurika en medebeeldhouer Hennie Potgieter is daarheen gestuur om oor die kappery toesig te hou en dit aan die einde af te rond . Hulle is vergesel deur Irma Moerdijk en Hennie se vrou Bettie .
Die Harmoniesaal waar die vier beeldhouers aan die kleipaneel , Die Voortrekkers verlaat die Kaapkolonie , gewerk het .
Laurika het met haar gebruiklike lewenslus en waarnemingsvermoë die twee jaar in Italië baie geniet . Daar was soms vertragings in die lewering van die marmer , en dan het sy en die geselskap ander lande en dele van Italië besoek . Na haar tuiskoms het sy vir twee jaar by haar suster Sophie op Standerton gewoon waar laasgenoemde skoolgehou het . In hierdie tydperk het sy ' n silindriese reliëfpaneel geskep vir ' n gedenksuil in die konsentrasiekampkerkhof op die dorp . Dit is naby die plaaslike laerskool geleë .
AFRIKAANS
30