JEUG
ONS IS HIER !
Wees die vonk ! Een van die lekkerste dinge van ' n nuwe organisasie stig is om ' n sterk leuse uit te dink – almal het idees !
Die FAK Jeug is ' n Afrikaanskulturele-organisasie geskoei op Christelike en Afrikanerwaardes , met die doel om Afrikanerjeug as die leiers van môre te ontwikkel . Ons doen dit deur kritiese denke te bevorder , kultuurrentmeesterskap aan te moedig , Afrikanertrots en -identiteit te ontwikkel en die Afrikanerkultuur te vier .
Ek sal graag in my eie taal wil studeer , maak nie saak wat ek swot nie . Ek sal graag openlik trots wil wees op my volkshelde – dit is danksy hulle dat ek hier is . Ek sal graag monumente vir hulle wil oprig , wat nie afgebrand , gevandaliseer of selfs gesteel word nie . Ek sal graag wil leef in ' n gemeenskap waar ek nie vrees vir my lewe in die aande tussen verkeersligte nie . Ek sou graag in ' n huis wou bly met ' n mooi grasperk en tuin , sonder dat dit omhein is met talle verskillende sekuriteitsmure , -heinings , -ligte , -drade , -kameras , -alarms en / of -wagte . Ek sou graag ( ten spyte van al my veiligheidsmeganismes ) veilig wil voel in my eie huis , my eie gemeenskap en my eie land .
FAK Jeug bestaan , want sommige van hierdie dinge waarna ek smag , is vir ander jong Afrikaners ' n bietjie te veel gevra . Ons word groot in ' n nuwe normaal – dit is vir ons normaal om nie hierdie dinge te ervaar nie en daar word selfs gefrons as jy daarna vra .
Ek dink ons jong Afrikaners het ' n identiteitskrisis . Die oumense wil jou vertel wat jy behoort te wees . Die media wil jou vertel “ jy moet net jouself wees ” – wat ook al dit beteken .
FAK Jeug wil jou help om jou identiteit te vind . Ons besef dat jy jou identiteit eerste in jou geloof vind , en dan in jou kultuur . Ja , die omstandighede is nie aldag in ons guns nie , maar ons aanvaar ' n goeie uitdaging . Jy skep jou eie geluk . By FAK Jeug skep ons ons eie toekoms .
' n Positiewe ingesteldheid kan versprei soos ' n veldbrand , al wat nodig is , is die vonk . Iemand moet inisiatief neem . Daarom is ons hier . Daarom is ons FAK Jeug . Daarom nooi ons jou uit : Wees die vonk .
Frans de Klerk , voorsitter van die FAK Jeug Toespraak met die amptelike bekendstelling van die FAK Jeug
KLIK HIER om na die video te kyk
AFRIKAANS
20