te plaas en hierdie het vir my so 'n
bietjie opportunisties gevoel. Boonop
het ek geweet dit gaan nie perfek wees
nie, dis vanuit my huis met beperkte
klank en ander uitdagings en sal om
daardie rede 'n waagstuk wees. Toe ek
my man bel en sê ek twyfel of ek dit
moet doen, het hy my net daar
kortgeknip. 'Nonsens, ons sal almal
ons deel moet doen in hierdie moeilike
tye,' het hy gesê en ek het besluit om
voort te gaan. Op die ou end het ek
wonderlike terugvoer gekry, en nou is
ek bly dat ek op hierdie manier so 'n
bietjie lig in die donkerte kon instuur.”
Laurinda vertel dat sy die tydperk
van inperking as 'n geskenk beskou.
Daar is soveel administratiewe take
wat agterweë gebly het en waaraan sy
moet aandag gee. In haar huis is daar
ook te veel dinge buite plek en dit alles
lê haar 'n bietjie lam. Hierdie tyd sal sy
nuttig gebruik om orde te skep. Sy glo
ook dat daar later kans sal wees om
kreatief te raak. Soos met enige ander
vakansie is 'n mens in die eerste week
net te moeg is om enigiets te doen.
Teen die tweede week begin jy meer
normaal reageer, en in die derde week
van jou vakansie dink mens nuwe
dinge uit. Sy sal stellig dan inspring
en nuwe melodieë skep, sê sy.
Laurinda, wat in Witsieshoek
grootgeword het, vertel sy het vroeër
vanjaar die geleentheid gekry om op
die dorpie Van Reenen, nie te ver
daarvandaan nie, 'n huiskonsert te
gaan hou. Hierdie was 'n heerlike
ervaring en iets wat sy voortaan meer
dikwels sal wil doen. “Dié aand was
daar heerlike kos, 'n kunsuitstalling en
ek het 'n konsert gehou. Hulle sê mos
altyd die drie K's is 'n waarborg vir
sukses: Kos, Kuns en Konsert. Dan
kom die vierde K sommer outomaties –
die lekker Kuier. Na afloop van my
konsertjie het almal net om die beurt
die mikrofoon kom haal en heerlik
saamgesing. Die 35 mense wat die
aand daar was, het almal gesê hoe
hulle dit geniet het,” sê sy.
Soos met enigeen in die vermaaklik-
heidsbedryf, raak die impak van die
koronavirus ook die manier waarop
sy haar botter en brood verdien.
Benewens haar musiekkonserte by
kunstefeeste en in teaters, is sy ook
deel van die musiekbediening by die
Paarlvallei NG Kerk. Tans kan dit nie
voortgaan weens die inperking nie. Sy
is dus besonder dankbaar oor Jantjie,
haar man wat 'n mediese dokter by
Tygerberg is, se vaste inkomste.
Vir Laurinda, was die FAK-toekenning
vir Besondere Kultuurprestasie wat sy
in 2008 ontvang het, 'n wonderlike
kopknik om te sê dit waarmee sy haar
besig hou, is die moeite werd. Sy vier
vanjaar 20 jaar in die musiekbedryf en
haar heel eerste CD, Perd oor die Maan
het in 2000 verskyn. “'n Toekenning
soos daardie laat 'n mens net weer
besef die musiek wat jy maak, het tog
waarde. 'n Mens het altyd hierdie ding
in jou kop dat as iets waardevol is,
gaan jy seker geld daarvoor ontvang.
Party goed werk ongelukkig nie so nie.
Ek maak vir 'n nismark musiek en
daarom is 'n toekenning soos dié van
die FAK 'n riem onder die hart. Dit is
weer 'n wonderlike aanmoediging om
aan te hou doen wat ek doen.”
“'n Mens mag nooit
ophou droom nie,
selfs nie eers wanneer
die wêreld rondom
jou tot stilstand
gekom het nie,”
sê sy beslis.
“My grootste droom is om besig te bly
met die dinge waarmee ek tans besig
is totdat ek ten minste 80 jaar oud en in
die ouetehuis is. Die paar jaar wat ek
by die kerk se musiekafdeling betrokke
geraak het, het ek weer bewus geword
van hoe belangrik die gemeenskap is
en hoe lekker dit is om 'n bydrae tot die
gemeenskap te maak. Mense kom kerk
toe en sing en geniet dit. Jy doen iets
moois en dis gesond vir mense om te
sing. Dit maak die selle in hul lyf
gelukkig. Ek is so dankbaar dat ek nie
meer soos in my jonger dae, bedreig
voel deur die gemeenskap en wat hulle
van my en my musiek mag dink nie. Ek
wil voortaan ook meer huiskonserte
doen en aktief besig bly tot my oudag.
Om iemand anders se poësie te neem,
daardeur te lees en uiteindelik in my
kop te hoor hoe die musiek daarvoor
moet klink, is altyd lekker. Om dit dan
uiteindelik met ander te deel, is 'n
wonderlike voorreg!”
Alita Steenkamp
KLIK en kyk hier
AFRIKAANS
13