1915
Die Rebellie van 1914 , wat gespruit het uit die Unie van Suid-Afrika se besluit om aan die kant van Brittanje tot die Eerste Wêreldoorlog toe te tree , het Afrikanergesinne en dorpe verdeel . Dit is gou deur die Unieverdedigingsmag onderdruk en nagenoeg 5000 rebelle is gevange geneem en beboet .
In Junie 1915 is die rebelleleier genl . Christiaan de Wet op agt aanklagte van hoogverraad skuldig bevind , tot ses jaar tronkstraf gevonnis en ' n boete van £ 2 000 opgelê . Ten spyte van Afrikaners se uiteenlopende standpunte oor die rebellie het veral De Wet se lot , Afrikaners diep getref en op 25 Junie 1915 is ' n beweging deur Afrikanervroue begin met ' n oproep in De Volkstem waarin die “ seuns en dogters van Suid- Afrika ” gevra is om iets te doen “ vir ' n man , ' n held van die volk wat sij innig hartelik liefhet ”.
Dié oproep het gekom van die 85-jarige Hendrina Joubert ( weduwee van genl . Piet Joubert ) en FC Eloff-Kruger , ' n dogter van pres . Paul Kruger . Dit het uiteindelik gelei tot massaprotesaksies deur vroue in tientalle Suid-Afrikaanse dorpe . Die hoogtepunt daarvan was die vroueoptog wat op 4 Augustus 1915 na die Uniegebou in Pretoria gehou is waartydens die vroue ' n versoekskrif aan die regering oorhandig het . Daarin is gepleit vir die vrylating van De Wet en die ander Rebelliegevangenes . Sowat 230 dorpe het afgevaardigdes gestuur om aan die optog deel te neem . Nagenoeg 3000 vroue , geklee in swart , het aan die optog deelgeneem en ' n bykomende 65 000 vroue landswyd verteenwoordig . Tydens die optog het ' n verdere sowat 2000 mans en vroue die groep as belangstellendes begelei . De Wet se vrou , Cornelia , sowel as die weduwee van wyle genl . Koos de la Rey ( wat kort voor die uitbreek van die rebellie doodgeskiet is ), Nonnie , was onder die betogers .
Die optog het gehelp om meer druk op die regering te plaas om die Rebelle te begenadig . De Wet en ' n aantal rebelle is in Desember daardie jaar vrygelaat , terwyl nog ' n groep in Mei 1916 en die res in November 1916 vrygelaat is . Wat betref die boetes wat aan talle Rebelle opgelê is , en eise om skadevergoeding wat teen hulle ingedien is : dit is betaal deur die Helpmekaarbeweging wat landswyd op spontane wyse geld vir hierdie doel ingesamel het .
1940
In Junie 1940 het Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog die tafel gedek vir nog ' n geskiedkundige optog deur Afrikanervroue na die Uniegebou . Sedert Suid- Afrika in September 1939 oorlog teen Duitsland verklaar het , is Suid-Afrikaanse mans voor ' n moeilike keuse gestel : hulle moes óf instem om in die buiteland te gaan veg óf die gevaar loop om uit hul werk ontslaan te word . Vroue het begin standpunt inneem namens hul mans en seuns wat gekant was teen deelname aan die oorlog .
' n Groepie vroue van Pretoria het besluit om hul stem hieroor te laat hoor en afgespreek om ' n optog na die Uniegebou in dié stad te hou . Die 78-jarige Henriette Armstrong het die voortou met die organisering van die optog geneem . Sy het ' n brief aan eerste minister Jan Smuts gerig en hom versoek om die afvaardiging op 22 Junie te woord te staan . Sy het onder meer geskryf dat die vroue ' n “ dringende versoek en smeekskrif ” aan hom wil voordra oor “ die volksbegeerte om vrede ”. Die groep wou Smuts ook versoek om ' n einde te maak aan die staat se dwang “ op burgers om hulle bloot te stel aan die uiterste gevare van oorlog ”. Smuts het die versoek van die hand gewys en aangevoer dat hul versoek in stryd met ' n parlementsbesluit is .
Die vroue het nietemin voortgegaan met hul planne vir die optog . Op 22 Junie het nagenoeg 6000 vroue , die meerderheid geklee in Voortrekkerdrag , die optog op Kerkplein begin . Talle het langs die pad by die protesgangers aangesluit totdat daar uiteindelik nagenoeg 9800 vroue in gelid tot by die Uniegebou gestap het . Johanna van Warmelo , die skrywer Miemie Rothmann ( beter bekend as M . E . R .) en Mabel Malherbe was onder die protesgangers , terwyl die aktrise Anna Neethling-Pohl as aankondiger opgetree het . Die versoekskrif is aan Smuts se plaasvervanger , Jan Hendrik Hofmeyr , oorhandig .
Die optog is landwyd ondersteun en minstens 1000 vroue het ook in Kaapstad byeengekom . Nagenoeg 4000 mense het deur telegramme en sowat 3800 deur middel van petisies die saak ondersteun .
Drie protesaksies – een doel
Die protesaksies van 1843 , 1915 en 1940 het in uiteenlopende omstandighede plaasgevind , maar getuig van een belangrike aspek , naamlik Afrikanervroue se strewe na vryheid . In al drie gevalle was dit ' n tyd van onsekerheid , wanhoop en onderdrukking , en elke keer was dit spesifiek vroue , wat ten spyte van struikelblokke , opgestaan het . Vergeet van kaalvoet in die kombuis . Afrikanervroue kies steeds eerder “ kaalvoet oor die Drakensberge ”!
Ilze Nieuwoudt
Die reëlingskomitee van die vroueoptog na die goewerneur-generaal in Augustus 1915 in Pretoria , onder wie mev . Elsie Eloff-Kruger
AFRIKAANS
8