Flink April 2024 57 | Page 7

Om dit te kon doen , het hy ' n nuwe onderwyswet opgestel , ingevolge waarvan die bevoordeling van dorpskole bo plaasskole in terme van toelaes beëindig sou word en ouers dus aangemoedig is om skoolbywoning te verbeter en sodoende groter toelaes te bekom . Daarby het hy die gehalte van onderwysers verbeter . Terselfdertyd het ' n persoonlike ramp hom getref ; kort nadat hy in Transvaal aangekom het , is sy vrou na ' n kort siekbed oorlede en hy het sy kinders in die sorg van sy ma en sy skoonma in Paarl gelaat .
In die vroeë stadium van sy verblyf in Transvaal het hy ' n vertroueling en vriend van pres . Paul Kruger geword . Hy en Kruger was saam met genl . Nicolaas Smit lede van die Transvaalse Deputasie wat in September 1883 uit Pretoria na Engeland vertrek het om volle onafhanklikheid van Engeland te verkry . Hierdie deputasie was suksesvol en Transvaal het sy onafhanklikheid herwin . Ingevolge die Londense konvensie waarop daar ooreengekom is , moes slegs verdrae met die Bantoestamme en vreemde moondhede vooraf goedkeuring van die Britse koningin verkry . Daarby is Transvaal se skuldlas verminder . Volgens dokumente het Du Toit met sy vlot Engels en skerp insigte ' n besondere rol gespeel as bemiddelaar tussen Lord Derby , die Britse minister van kolonies , en Kruger . Die deputasie het ook lande soos Duitsland , Portugal , Nederland , België en Frankryk besoek en ook in hierdie lande ' n groot indruk gemaak . In Frankryk is Kruger beskou as ' n simbool van ' n vryheidsvegter en ds . Du Toit is as ' n redenaar , soldaat en digter beskou . In Duitsland het die kanselier Otto von Bismarck die deputasie onthaal en weer het ds . Du Toit as Kruger se tolk opgetree . Tydens hierdie reis is ds . Du Toit tot die geografiese genootskap van Portugal en Frankryk benoem . Die deputasie het in Julie 1884 na Suid-Afrika teruggekeer .
Die Gedenkschool der Hugenoten op Kleinbosch in Daljosafat
Lede van die Transvaalse Deputasie wat in September 1883 uit Pretoria na Engeland vertrek het om volle onafhanklikheid van Engeland te verkry .
Op 8 Julie 1885 is ds . Du Toit weer getroud , hierdie keer met Anna Francina Malan , by wie hy vier kinders gehad het . Net twee van hulle , naamlik Magdalena en Carl Wijnand Markelbach , het volwasse ouderdom bereik . Laasgenoemde het ' n Gereformeerde predikant en parlementslid op Colesberg geword . Sy ander twee kinders , ' n dogtertjie en ' n seuntjie , is baie jonk dood . Op 11 September 1885 het die GRA die Bybelvertaling aan hom opgedra .
Du Toit en sy tweede vrou , Anna Francina Malan , se portret in die Gereformeerde Kerk Strydenburg se konsistorie
Die ontdekking van goud het gemaak dat hy besluit het om uit sy posisie as superintendent van onderwys te bedank en direkteur van ' n goud mynmaatskappy bekend as De Eendracht te word . Hy het al sy bates in hierdie maatskappy belê . Hy was van plan om ' n Europese reis te onderneem en met sy terugkeer na Suid-Afrika sou hy na die Kaap verhuis en hom aan die Bybelvertaling wy . Pres . Kruger het hom versoek om sy bedanking as superintendent van onderwys terug te trek en selfs onderneem om hom ' n salaris te betaal in die tyd wat hy in die buiteland sou wees . Hy het die aanbod van die hand gewys en slegs onderneem om die pos op te neem wanneer hy sou terugkeer . Hy , sy vrou en kinders het van 1889 tot 1890 ' n uitgebreide reis deur Europa onderneem en in die Belgiese hoofstad Brussel het hy private gesprekke met die koning , die minister van buitelandse sake en die burgemeester gevoer . Terwyl hulle op reis was , is sy eenjarige seuntjie Stefaan in die Paarl aan komplikasies wees kinkhoes dood en die mynmaatskappy se bankrotskap het gemaak dat hy al sy besittings verloor het . In hierdie omstandighede het hy nie sy weg oopgesien om sy pos as superintendent van onderwys op te neem soos wat hy belowe het nie .
AFRIKAANS
7