Flink April 2024 57 | Page 8

Die Gereformeerde Kerkgebou op Strydenburg , moontlik met sy ingebruikneming op 10 September 1898 . Dis die eerste Kruiskerk wat ds . Du Toit gestig het .
In Augustus 1890 het hy na die Paarl teruggekeer en vir eers het hy , sy vrou en vyf kinders in die agterkamer van ' n gehuurde woning ingetrek . Toe dit beter met hulle gegaan het , het hulle ' n vleuel van die Patriot-gebou betrek . Hy het hom nou voltyds aan die Bybelvertaling toegewy maar in 1891 het hy die redakteurskap van Di Patriot oorgeneem toe sy broer ( Oom Lokomotief ) en CP Hoogenhout besluit het om die blad uit protes teen sy politieke oortuigings te verlaat . Hy het ook die maandelikse godsdienstige blad De Getuige wat hy in 1882 van stapel gestuur het , en De Paarl , ' n blad wat drie keer per week in die Paarl uitgegee is , geredigeer . Hy het die sekretaris geword van die Paarlse bestuurskomitee van die Taalbond , wat hom beywer het vir die bevordering van Nederlands in stryd teen verengelsing . Daarby was hy instrumenteel in die daarstelling van Taalbondeksamens , waarvan die eerste een op 11 Junie 1892 afgelê is .
Op 29 September 1899 , twaalf dae voordat die Anglo- Boereoorlog uitgebreek het , het ds . Du Toit sy Afgepersde Getuienis gepubliseer . Hierin het hy gewaarsku dat die Transvaal geen kans gehad het in die dreigende oorlog teen Engeland nie ; hulle moes eerder die onreg herstel en daarna hul toevlug na God neem omdat Hy , volgens ds . Du Toit , slegs tot hul redding sou kom as hul kant skoon sou wees . Volgens hom was die onreg drieledig ; die konsessiepolitiek waardeur enkelinge ten koste van die regering verryk kon word , die onderwerping van die howe aan die regering en die nie-verlening van stemreg aan buitelanders wat stelselmatig van een jaar na veertien jaar se inwoning verleen is . Die Transvaalse regering het egter ' n maand tevore reeds toegewings oor stemreg gemaak ; Kruger het reeds die vyfjaar-verblyfkwalifikasie vir stemreg aanvaar en dit boonop terugwerkend van krag gemaak terwyl agt nuwe setels vir die Volksraad aan die Witwatersrand of buitelanders aangebied is . Dit was alles pogings deur Transvaal om die oorlog te verhoed .
Ds . Du Toit se standpunte het veroorsaak dat hy in daardie tyd verskeie dreigende en beledigende briewe ontvang het en as persoon verguis is . Dit het ook ' n nadelige uitwerking op sy sakebedrywighede gehad aangesien publikasie van Di Patriot , De Getuige en Ons Klyntji gestaak is . Twee Jode wat hy in staat gestel het om hulle as immigrante te vestig , het hom gehelp om die plaas Schoongezict in Daljosafat naby die Paarl te koop . Hier het hy ' n byeboerdery bedryf en wyn gemaak wat selfs na Europa uitgevoer is . Later het hy die plaas verkoop en die familieplaas Kleinbosch bekom .
Hoewel sy ongewildheid hom daarvan weerhou het om enige openbare rol in belang van Afrikaans te vertolk , is ' n belangrike brief wat hy aan Gustav Preller geskryf het , later onthul . Op 6 Maart 1905 het JH ( Onze Jan ) Hofmeyr met ' n toespraak ' n vurige pleidooi vir die handhawing van Nederlands gemaak , maar Preller het gesê dat Afrikaans eerder as Nederlands die taal van die toekoms is . In ' n dringende vertroulike brief van 30 Maart 1905 het Preller ds . Du Toit , wat toe op Schoongezicht gewoon het , gevra om hom te help . Du Toit se antwoord van 4 April 1905 het uit ses lang bladsye bestaan en het al die grondbeginsels van die Afrikaanse taal wat hy reeds in 1891 bepleit het , bevat . Preller het ruim gebruik gemaak van die inhoud vir sy belangrike reeks artikels wat van 19 April 1905 in De Volkstem onder die titel “ Laat ' t ons toch ernst wezen ” gepubliseer is . Dit is later deur kenners as die begin van die Tweede Taalbeweging beskou .
Sy aktiwiteite as Bybelvertaling het gelei tot die publikasie van Genesis in 1893 , Mattheus in 1895 , Openbaring in 1898 en Di Psalme in 1907 terwyl Hooglied , Markus en Handelinge tussen 1905 en 1908 in Stemmen des Tijds geplaas is en Lukas in manuskripvorm bestaan het . Sy persoonlike ongewildheid en die feit dat die tyd nog nie geleë was vir ' n Afrikaanse Bybelvertaling nie , het gemaak dat dit nie inslag by die publiek gevind het nie . Hy het sy persoonlike bediening in hierdie tyd uitgeleef as konsulent en geestelike leier van die Gereformeerde Kerke onder die Kruis , ' n kortstondige Protestantse kerkverband wat ontstaan het toe lidmate laat in die negentiende en vroeg in die twintigste eeu besluit het om die NG Kerk om “ godsdienstige ” redes te verlaat . Die eerste gemeente is in 1897 op Strydenburg gestig en daarna het gemeentes landwyd ontstaan .
In Augustus 1910 het sy perdekar omgeval terwyl hy vir die Kruiskerke op besoek aan Calvinia was . Hy het ernstige beserings opgedoen wat gemaak het dat hy vir ' n groot deel van die res van sy lewe bedlêend was . Op 28 Mei 1911 is hy in die ouderdom van 63 jaar op Kleinbosch oorlede en hy is ook op hierdie plaas begrawe . Die volgende woorde is op sy grafsteen aangebring :
“ Vader van die Afrikaanse Taal , Stigter van die Afrikanerbond en Strijder vir die Calvinisme .”
Graf van SJ du Toit , Daljosafat , Paarl
Daantjie Badenhorst
8 AFRIKAANS