615
waardetoevoeging en
landbouverwerking
Biobrandstowwe
1. Oorsig
Wanneer mense van biobrandstowwe praat, verwys hulle in wese na etanol
of biodiesel. Etanol is die term wat deur die Amerika (Brasilië en die VSA
produseer die meeste van die wêreld se etanol) verkies word, terwyl
biodiesel weer deur Europa (verantwoordelik vir die meeste van die wêreld
se biodieselproduksie) verkies word.
Biobrandstowwe kan uit ’n hele aantal plantgewasse geproduseer word.
Die meeste etanol ter wêreld word tans uit mielies verkry, maar suikerriet
word in hierdie opsig ook toenemend gunstig beskou (laasgenoemde lewer
dubbel die opbrengs per lappie grond as eersgenoemde). Biodiesel word
hoofsaaklik uit groente-olies of dierevette geproduseer, en China het haar
groeiende biodieselbedryf te danke aan die gebruikte kookolie-toevoer uit
die Chinese restaurante.
Sellulosiese alkohol wat vinnig besig is om die kroonjuweel van die
biobrandstofbeweging te word, word geproduseer deur die afbreek
van plantselwande en aangesien sellulose die mees algemene organiese
verbinding is, kan dit op baie meer plekke gekry word. Dit het ook die
bykomende bonus dat dit dinge wat voorheen as afval geklassifiseer is (soos
mieliereste, houtspaanders en grasse) in ongelooflik nuttige energiebronne
omskakel.
Daar is verdeeldheid in sekere lande en belangegroepe in daardie lande
oor of biobrandstowwe skuld het aan die voedselonsekerhede van die
dag en of dit ’n toekomstige noodsaaklike bron van energie is. Daar word
ook toenemend weer gedink oor hoe “groen” of omgewingsvriendelik
biobrandstof werklik is.
Bronne: “Biofuels: ‘Green gold’ or problems untold” (’n artikel op www.cnn.com)
en “Bad ethanol, good ethanol” (’n verslag op www.irinnews.org).
2. Biobrandstowwe: die debat
Die prys en aanbod van fossielbrandstof het aanleiding gegee tot ’n
strategiese nuutdink. Regerings sowel as belangegroepe soek nou na
alternatiewe energiebronne. Klimaatsverandering en die gevolglike kommer
oor voertuiggasvrystellings het ’n morele dringendheid hieraan verleen.
Om die biobrandstofdebat tot sy reg te laat kom, vereis baie meer ruimte
as wat hier tot ons beskikking is en ons sal dus net die argumente noem wat
herhaaldelik opduik. Ons moedig u aan om die genoemde webtuistes en
ook ander leesstof te verken ten einde ’n beter begrip van die argumente
te ontwikkel.
Die saak vir biobrandstowwe sien hoofsaaklik as volg daar uit:
• Die plaaslike ekonomiese ontwikkeling – inkomsteskeppende
geleenthede vir ondernemers en landelike gemeenskappe; nuwe markte
vir ontluikende (en kommersiële) boere en opbou van gemeenskappe;
ontwikkeling van nuwe vaardighede en dienslewering, ensovoorts – en
die beëindiging van die migrasie van mense na stedelike gebiede.
• Dis omgewingsvriendelik en beter vir ons gesondheid (geen
koolstofmonoksied en fyn stofdeeltjies wat deur uitlaatkleppe vrygestel
word nie).
• Die vestiging van neweprodukte in die proses (voer vir lewende hawe,
bemesting vir gesaaides).
Die saak teen biobrandstowwe:
• Die hoë insetvlakke – fossielbrandstof, bemesting – beteken dat
die koolstof- en stikstofdioksiedvrylatings die goeie bedoelings van
omgewingsvriendelikheid hokslaan. Druk op die watertoevoer en
gronderosie is moontlike nadele van biobrandstofgesaaides en so ook
die verlies aan miljoene hektaar woude wat in soja-, suikerriet- en
palmolieplantasies omskep is.
• Plaaslike ontwikkeling kan nie geslaagd wees as dieselfde boere honger
ly omdat hulle hul gesaaides (bv. broodwortel) vir energie, eerder as vir
kos gebruik nie.
• Die gebruik van voedselgewasse as brandstof gee aanleiding tot
buitensporige voedselpryse. Ons kyk onder opskrif 3 na die voedsel
versus brandstof-debat.
• Biobrandstowwe is nie die enigste hernubare vorm van energie nie.
Waarom kyk ons nie na sonenergie of ander vorme van energie nie?
3. Die voedsel vs. brandstof-vraag
Kyk na die aantekening oor die verandering in landgebruik (ILUC) onder
opskrif 8.
Die dramatiese toename in voedselpryse oor die afgelope jare het kommer
laat ontstaan oor die bekostigbaarheid sowel as die toeganklikheid van
kos vir behoeftiges. Aangesien biobrandstowwe telkemale as een van die
dryfvere agter die skerp styging in voedselpryse geïdentifiseer is, het dit tot
die voedsel versus brandstof-debat aanleiding gegee.
Die redes vir die sk erp toename in pryse is legio (kyk na opskrif 2 in die
“Voedselsekerheid” hoofstuk). Daar is egter nie eenstemmigheid oor die
mate van verantwoordelikheid wat deur graangebaseerde biobrandstowwe
gedra word nie. Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en
Ontwikkeling (Organisation for Economic Co-operation and Development
– OECD) gee die verantwoordelikheid so hoog as 60 persent aan en die
Internasionale Voedselbeleidnavorsingsinstituut (International Food Policy
Research Institute – IFPRI) gee dit as 30 persent aan. Die voorstanders van
biobrandstof, soos die US Secretary for Agriculture, mag dalk ’n 3 persent
verantwoordelikheid toeken.
As gevolg van die koste verbonde aan vervoer, prosessering en verspreiding,
is landboukommoditeite alreeds in die globale energie-mark geïntegreer.
Die vervaardiging van biobrandstowwe uit voedselgewasse skep ’n heel
nuwe dimensie. Droogtes in gebiede waar daar met koring en ander
voedselgewasse geboer word, mag dalk tydelike faktore wees; maar
wanneer sodanige droogtes met politieke spanning en die onsekerheid
saamval wat voedsel aan die prys van olie koppel (omdat graan na brandstof
omgeskakel word), bedreig dit miljoene mense se lewens.
In ’n land soos Suid-Afrika waar boere die meeste jare surplus
graanoeste produseer, kan die gebruik van graan as brandstof inderdaad
voedselsekerheid verhoog. Wanneer surplusoeste pryse laat daal, word
boere genoodsaak om na aktiwiteite te verander wat hul inkomste
verseker en derhalwe beweeg hulle weg van graanproduksie. As dit
saamval met ’n droë jaar, kan ons werklike voedseltekorte ondervind.
Indien daar ’n biobrandstofbedryf is wat die surplusse prosesseer en die
balans tussen vraag en aanbod word gehandhaaf, sal boere altyd ’n rede
hê om graan te verbou.
Bron: Derek Matthews
Toegang tot voedsel, en nie voedselproduksie nie, die probleem is.
Ernstige marktekorte is ook ’n kritieke faktor (d.w.s. prysvasstelling;
die feit dat plaashekpryse geskei word van kleinhandelpryse; pryse wat
verander word deur spazawinkels in behoeftige areas).
Bron: Andrew Makanete