Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 61

59 5. Die aanbodketting Die opeenvolging van fases betrokke by die oordrag van produkte van die plaas aan die verbruiker staan oor die algemeen bekend as die bemarkingsketting. Alle oordragte behels bemarkingsaktiwiteite in die een of ander vorm, en alle aktiwiteite behels koste, wat soos volg uiteengesit kan word: • Produkvoorbereidings- en verpakkingskoste. Die oes van produkte en die beweging van produkte na die plaashek of verpakkingstoor maak deel van die produksiekoste uit. Die tweede soort koste wat teëgekom word is alle koste verbonde aan verpakking. • Hanteringskoste. In alle fases in die bemarkingsketting moet produkte verpak en uitgepak, opgelaai en afgelaai word, in die winkel geplaas word en weer daar uitgehaal word. Die somtotaal van al hierdie hanteringskoste kan ’n aardige bedrag uitmaak. • Vervoerkoste. Vervoerkoste kan enigiets behels van produkte wat op ’n donkie se rug vervoer word tot produkte wat per vragmotor, bakkie, taxi, trein, vliegtuig of skip vervoer word. • Produkverliese. Verliese kom algemeen voor by landbouprodukbemarking, selfs as niks eintlik weggegooi word nie, maar produkte se gewig kan byvoorbeeld tydens die berging en vervoer daarvan verminder. Die hantering van verliese in bemarkingskosteberekeninge kan redelik ingewikkeld wees. Produkte wat gekoop word maar nie verkoop word nie, kan nogtans koste laat oploop, soos verpakkings-, bergings- en vervoerkoste. As daar geen hoeveelheidsverliese is nie, kan daar nog steeds gehalteverliese gely word, en dit word in die prys waarteen die produkte verkoop word, weerspieël. • Bergingskoste. Die hoofdoel van berging is om die beskikbaarheid van produkte oor ’n langer tydperk te verleng as wat dit sou wees as dit onmiddellik ná die oestyd verkoop is. Hierdie koste wissel na gelang van die koste verbonde aan die bou en bedryf van die winkel, maar hang ook af van die kapitaal wat gebruik is om die produkte wat geberg word, te koop. • Verwerkingskoste. Dit is ’n belangrike bemarkingskoste. Graansoorte soos mielies en koring moet gemaal word. As ons die totale bemarkingskoste uitwerk, moet ons die omsettingsfaktor van ongemaalde tot gemaalde graan asook die waarde van enige neweprodukte in aanmerking neem. Verwerkingskoste kan wissel na gelang van die doeltreffendheid waarmee die organisasie die verwerking uitvoer, die verwerkingsfasiliteit se verwerkingskapasiteit en die frekwensie van die bedryf daarvan. Dit sal verder wissel na gelang van die organisasie se koste wat afhang van faktore soos brandstofkoste, waardeverminderingskoste, invoeraksyns, belastings en lone. • Kapitaalkoste. Om sake te kan doen, moet ’n handelaar geld by ’n bank leen. Die rente wat die handelaar op daardie geld betaal, is ’n koste. As ’n handelaar sy of haar eie geld gebruik, moet hy of sy die gebrek aan rente wat hy of sy kon verdien het, in aanmerking neem – ’n koste wat die ekonome “geleentheidskoste” noem. • Fooie en kommissies. Die koste wat hierbo in aanmerking geneem word, is die vernaamste koste vir die bemarking van landbouprodukte. Daar is nog baie ander koste, en diegene wat by die meting van koste betrokke is, moet dit alles in gedagte hou. Mense wat byvoorbeeld van die nasionale varsproduktemarkte gebruik maak, moet agentfooie betaal. 6. Inligting aan kommersiële boere Die versuim om ’n bemarkingstrategie te beplan, is dikwels die grootste fout wat Suid-Afrikaanse boere begaan, maar om ’n gewas te produseer en dan uit te vind dat dit nie winsgewend van die hand gesit kan word nie, is ’n situasie wat maklik verhoed kan word. Die kritieke eerste stap vir boere is om die produksie- en bemarkingskoste vas te stel en ook die verwagte pryse op ’n bepaalde tyd in die jaar en hulle teikenmarkte in berekening te bring. Die sleutelelemente wat boere voor enige produksie in aanmerking moet neem, word hieronder gelys: • Boere moet hulle kliëntebasis, sterk punte en mededinging verstaan. • Boere moet die produksie van goeie kwaliteitsgewasse optimaliseer en die sukses daarvan smaak deur reg aan die begin vas te stel of daar ’n genoegsame behoefte of begeerte vir hulle produk of diens bestaan. Indien nie, sal daar nie ’n konstante stroom kliënte wees nie. • Stel eers vas hoe die produk bemark gaan word. ’n Deeglike begrip van die teikenmark is essensieel. Stel ook vas wat koopbesluite beïnvloed. • Onthou, die beplanning moet die huidige mark, potensiaal en bestaande kliënte, mededingers, markpenetreringstaktieke en, baie belangrik, die boer se mededingende voordeel weerspieël. • ’n Innoverende bemarkingsplan laat ’n produk of diens in die geheue van potensiële kliënte vassteek. ’n Goeie bemarkingsplan integreer ook tipiese veelvuldige media en/of promosiestrategieë om die mark te bereik. Die beplanning moet nou neergeskryf word. Wanneer ’n boer dit opstel, moet hy of sy die volgende onthou: • Skryf oor die huidige mark. Beskryf u bedryf, die omstandighede wat die bedryf beïnvloed asook oor die sakegeleenthede en bedreigings. • Nuwe produkte moet altyd marknavorsing insluit. ’n Ontleding van bestaande kliënte is ook noodsaaklik – wie hulle is, hulle koopgewoontes en koopsiklusse. Deur ’n deeglike kennis van u teikenmark te verkry, sal u ’n beter aansluiting by u kliënte kry en hulle sal hulle ook met u produk kan vereenselwig. • Nadat u die mark geïdentifiseer en nagevors het, is die strategie om die mark te bereik en die produk te versprei van uiterste belang. ’n Lewensvatbare wyse om die mark teen ’n geskikte prysvlak te bereik, is iets wat potensiële leners deeglik sal ondersoek. • Die bemarkingstrategieë en suksesse van mededingers moet ondersoek word. Vra wie goed doen en wie sukkel en of en waarom hulle steeds groei of afskaal. Die begrip van u mededingers se swak en sterk punte is van kritieke belang om ’n mededingende voordeel te kry. U moet in staat wees om dit te regverdig dat daar