Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 601

599 7. Vir die nuwe toetreder • Varke moet altyd skoon, vars water hê om te drink. Een vark benodig minstens 5 tot 10 liter water elke dag. • Wanneer die sôe hulle kleintjies voed, moet hulle nog meer water drink omdat hulle melk moet produseer. • Varke het enkelvoudige mae en benodig twee tot drie maaltye per dag. • Verdeel die kos in twee porsies en voer die varke die een helfte in die oggend en die res in die aand. • Moenie u varke slegs een maal per dag voer nie. As hulle eers versadig is, sal hulle met die res van die kos speel, daarop trap en dit bevuil. Hierdie kos word dus bemors terwyl die varke later weer honger sal wees. • Moet nie net een groentesoort (byvoorbeeld kool) aan die varke voer nie omdat varke baie verskeidenheid in hulle dieet nodig het om gesond te bly. Selfs gesnyde gras (veral groen gras) kan in klein hoeveelhede aan die varke gevoer word om hulle dieet aan te vul. • Dit is belangrik dat klein of swak varke afsonderlik gevoer word, omdat die groot, sterker varke al die kos sal opvreet. • Indien u meer as vier volwasse varke aanhou, moet die kos verkieslik in twee houers verdeel word sodat elke dier sy regmatige deel kan kry. • Baie varke is pienk en as hulle in die son gehou word, word hulle velle rooi weens sonbrand. Varke het nie veel hare wat hulle lywe teen hitte kan beskerm of teen koue kan isoleer nie. Varke ly indien hulle te koud of te warm kry en moet dus nie blootgestel word nie. • Baie varke vrek van longontsteking as hulle in koue weer, wind of reën gelaat word. Varke kan ook van hitte-uitputting vrek indien hulle sonder beskutting of water in die son gelaat word. Selfs as die diere nie vrek nie, sal hulle gesondheid nadelig geraak word. • Varke moet ’n droë, warm slaapplek hê. • Varke moet uit die direkte son in die skaduwee kan lê. ’n Gedeelte van die varkhok moet ’n dak hê om genoegsame skaduwee vir al die varke te verskaf. (Sommige kundiges meen dat die hele hok bedek moet wees.) • Indien die dak van metaal gemaak is, moet dit met gras of takke bedek word om dit koel te hou. • Baie mense dink dat varke daarvan hou om in hokke te wees met slegs modder om in te staan. Hierdie wanpersepsie mag daartoe lei dat die varke siek word omdat hulle aan ongesonde toestande blootgestel word. • Varke rol in die modder om hulle teen die son en uiterste temperature asook teen parasiete soos vlieë te beskerm. Varke het nie modder nodig nie indien hulle goeie beskutting het en die hokke skoon gehou word om vlieë en ander parasiete weg te hou. • Dit is belangrik dat die vloer van die hok skuins moet loop sodat oortollige water kan wegvloei en die hok droog kan bly. Indien water wel in die hok opdam, is dit belangrik om ’n dreineringsvoor of sloot te grawe om water uit die hok weg te lei. • Varke mis altyd op dieselfde plek. Sorg dat die afval minstens twee maal per week verwyder word om die gevaar van siektes te verminder. • Kos- en waterhouers moet minstens twee maal per week deeglik skoongemaak word. Bron: Inligtingspak (Info Pak) oor varkverso