589
In Suid-Afrika, soos in Australië, word wol hoofsaaklik by wyse van die
uitroepveilingstelsel verkoop. Ongeveer 15% van die Australiese skeersel
word deur ander verkoopsmeganismes (kontrakte, termynlewering,
termynkontrakte, ens.) verhandel, maar hierdie meganismes het nog nie in
Suid-Afrika posgevat nie.
Wolveilings word gekenmerk deur baie verkopers en min kopers. Kopers
moet gewoonlik by verskillende veilingsgeleenthede om wol meeding om
verwerkingslotte saam te stel wat aan hulle kliënte se kontrakspesifikasies
met betrekking tot prys, hoeveelheid en afleweringsdatum te voldoen.
Kontrakte in buitelandse valuta soos die euro of die Amerikaanse dollar
moet tot koopbeperkings in rand omgereken word en die koper dra die
risiko.
Die wolmark kan op grond van die gemiddelde veseldeursnee in drie
algemene produksegmente ingedeel word:
• Fyn wol (<19,5µ) word gebruik vir die vervaardiging van luukse
produkte en word toenemend, veral deur Australië, op die mark
aangebied. Pryse is betreklik onbestendig en swak gehalte (bv. as
gevolg van droogte) het ’n beduidend nadelige uitwerking op die
prys van hierdie wol. Modes en die verbruikersvraag na sagte, ligte
produkte vir fyn kleding is die vernaamste dryfvere in hierdie segment.
Die fynste produkte in hierdie segment ding mee met ander produkte
soos kasjmier.
• Wol van medium dikte (gewoonlik 20-25µ) word hoofsaaklik gebruik vir
die vervaardiging van klassieke mansdrag, vrouedrag en gebreide klere.
Die grootste vraag na wol uit hierdie produktesektor is waarskynlik
vir mengsels met sintetiese vesels wat gemik is op die laer prysklasse
in die kleinhandelsmark, en in sommige gevalle om bepaalde tegniese
resultate te verkry.
• Sterk (growwe) wol (>26µ) word hoofsaaklik vir binnenshuise
tekstielware soos meubelstowwe, tapytstof en beddegoed gebruik.
Suid-Afrikaanse wol word nie vir hierdie produkkategorie aangewend
nie.
Die Suid-Afrikaanse wolskeersel is ’n uitvoerproduk wat in onverwerkte of
halfverwerkte vorm verhandel word en dit sal waarskynlik voorlopig so bly.
Europa is, wat waarde en volume betref, die vernaamste uitvoerbestemming.
Die internasionale aanbod-vraag-verhouding is gevolglik die stukrag wat
plaaslike pryse beïnvloed en wat begryp moet word om insig te verkry in
die pryse wat binne afsienbare tyd verwag kan word.
4. Nuus oor kleinskaalse boere
Ongeveer die helfte van die skape in die Oos-Kaap het altyd van die
voormalige tuislandgebiede (gemeenskaplike gebiede) af gekom. Ongelukkig
het mense in dié gebiede baie min vir hul wol ontvang. Die NWKV-program
is daarop gemik om volhoubare wolskaapboerdery te verseker. Die
program is goed op dreef. Die belangrikste aktiwiteite is die skeer van skape
en wolklassering, maar die klem val op bemarking.
Sedert 1997/1998 het die wolinkomste van gemeenskaplike produsente
met 300% toegeneem (R1,5 miljoen in 1997/1998 tot R31 miljoen in
2006/2007. Saam met die opleidingsprogram implementeer die NWKV ook
’n genetieseverbeteringskema. Dit bestaan uit drie programme:
• Verspreiding van 3 200 ramme van goeie gehalte en die verwydering
van dieselfde aantal ramme wat plaaslik geteel is.
• Die vestiging van agt groepteelskemas binne die gemeenskaplike
gebiede.
• Demonstrasies van goeie veldbestuurpraktyke.
Met hierdie program word bestaande infrastruktuur deur die NWKV
opgradeer en word nuwe infrastruktuur geskep. Hulle fokus op die
hantering van wol, behandeling van die diere, dieregesondheid, die gebruik
van fasiliteite, die bemarking van wol en die organisatoriese komponente
van boerdery.
Tree in verbinding met die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) vir
meer inligting (besonderhede onder opskrif 6).
5. Nasionale strategie en regeringskontakte
Kontakbesonderhede vir die verskillende direktorate van die Departement
van Landbou, Bosbou en Visserye (DLBV) verskyn op www.daff.gov.za.
Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR)
Tel: 012 341 1115
www.namc.co.za
In 2000 het die Wolforum, die verteenwoordigende liggaam van
belangegroepe in die wolbedryf, die Minister van Landbou en Grondsake
kragtens die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte, 47 van 1996
versoek om die volgende statutêre maatreëls wat deur Cape Wools SA
(’n Artikel 21-maatskappy) geadministreer moes word, in te dien en uit te
vaardig:
• Artikel 18 van die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte:
Rekords en Opgawes
• Artikel 19 van die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte:
Registrasie
Kragtens die bogenoemde statutêre maatreëls moet elke wolmakelaar, handelaar, -verwerker, -invoerder en -uitvoerder geregistreer word en
rekords en opgawes aan Cape Wool SA verskaf. Die oogmerk en doelstellings
van hierdie statutêre maatreëls is om partye te dwing om rekords te hou en
opgawes in te dien om te verseker dat deurlopende, aktuele en akkurate
inligting aangaande die produkte vir alle belanghebbendes beskikbaar is.
Markinligting is noodsaaklik om ingeligte besluite te kan neem.