Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 577

575 lewende hawe Konyne Raadpleeg die hoofstuk oor die produksie van spesialiteitsvesels vir inligting oor die aanhou van konyne vir hulle wol. 1. Oorsig • ’n Betreklik klein area word benodig vir ’n ekonomiese eenheid. ’n Kleinhoewe of selfs ’n redelike groot erf in die stad (indien die regulasies dit toelaat) sal geskik wees. • Konyne vergelyk goed met ander diere in hulle vermoë om groentevoer in vleis om te sit. Konyne het slegs 3,5kg groentevoer nodig om 1kg lewende massa vleis te lewer. • Die reproduksiepotensiaal van die wyfie is merkwaardig indien in ag geneem word dat ’n enkele wyfie in ’n kommersiële kudde tot 40 kleintjies voortbring, wat beteken dat een 3kg-dier jaarliks tot 40kg vleis kan lewer. • Sommige rasse, soos die Chinchilla- en Rex-konyne, word vir sowel hulle vleis as pelse aangehou, terwyl die New Zealand White en Kaliforniese konyn uitsluitlik vir vleisproduksie aangehou word. Angorakonyne (sien die hoofstuk oor spesialiteitsveselproduksie) word uitsluitlik vir hulle wol aangehou. • In Suid-Afrika is daar beperkte kommersiële belangstelling om navorsing en ontwikkeling oor die gesondheid van konyne te bevorder en waar kundigheid wel bestaan, is dit dikwels moeilik om toegang te verkry wanneer dit benodig word. Probleme met betrekking tot lisensiëring en die koste daaraan verbonde verhoed dat toegang tot die kundigheid wat op massaproduksie van toepassing is van die buiteland verkry kan word. 2. Plaaslike sakeomgewing Pelse • Die mark vir pels fluktueer en telers moet moontlik hulle eie markte vind. • Teling vir pelse hou ook bykomende onkoste in, aangesien diere tot ná die primêre haarkleed gewissel is, aangehou moet word. • Die verwerking van pelse deur die produsent self kan ook groot onkoste meebring. Vleisproduksie • Met ’n noukeurig uitgewerkte teelprogram kan topproduksie bereik word. Die ekonomies produktiewe lewe van ’n wyfiekonyn is ongeveer 24 tot 36 maande. • Konyne is gewoonlik op 11 weke met ’n massa van 2,3kg tot 2,5kg gereed vir die mark. • Die wet vereis dat die konyne by ’n goedgekeurde abattoir, hetsy die produsent se eie of ’n bestaande abattoir, geslag word. • ’n Elf-week-oue konyn behoort ongeveer 54% vleis te lewer. • Konyne kan word as troeteldiere, vir hul vleis, hul pelse of om Angorawol te produseer, aangehou. • In Suid-Afrika word kommersiële konynboerdery ietwat afgeskeep. 3. Konynboerdery Daar is nie een boerderymetode wat algemeen vir suksesvolle konynboerdery aanbeveel kan word nie. Die keuse van enige mengsel van praktyke en metodes moet op die oorweging van ’n reeks maatstawwe wat drie basiese determinante insluit, berus: 1. Die aard en behoeftes van die konyn en die soorte stres wat dit beleef. 2. Die produkte waarvoor geboer word. 3. Die beskikbaarheid van die vereiste insette. a. Die aard van die konyn • Hoë reproduktiewe vermoë en gepaardgaande hoë vrektesyfer. • Goeie bewerkingsverhouding. • Vleis laag in liggaamsvet. • Raak gou volgroeid. • Senuweeagtige klein nagsoogdier waarop rotte, roofvoëls, muishonde, honde, katte en slange jag maak. Bang vir skielike bewegings en klanke en raak maklik paniekerig. • Die bakteriese prosesse in die agterderm stel die konyn in staat om plantruvoer maklik in vleis om te sit en die diere benodig gevolglik vrylik beskikbare vars water. Sensitief vir skielike veranderings in die dieet. • Betreklike groot dermkanaal noodsaak hoë deurvoer van skoon ruvoer en genoeg beweging om die derm uit te rek en gas wat opbou, uit te dryf. • Gevoelig vir skielike veranderings in temperatuur en temperatuuruiterstes, veral hitte, en vir trekke en vogtigheid. • Vatbaar vir ’n aantal aansteeklike siektes en parasiete, veral wanneer die dier stres ervaar. (Die invoer van lewendige konyne word dikwels beperk, soos tans die geval is.) • Mannetjies raak toenemend territoriaal aggressief namate hulle volwasse word. Hulle urineer dan op ander konyne en val ander mannetjies met geweld aan. • Die hele dier kan in produkte omgesit word. b. Produkte • Vleis, pels, wol (plus al die waardetoegevoegde omsettings en verwerkte derivate). • Om vir vleis te boer beteken dat die konyne geslag moet word, wat nie nodig is wanneer vir wol geboer word nie. Die produksie en bemarking van wol en wolprodukte vereis egter ’n reeks vaardighede, bestuurstegnieke en markte wat beduidend verskil van dié wat op die teling van slagdiere van toepassing is, en verg spesifieke aandag. • Om vir pelse (en bepaalde vleisprodukte) van hoë gehalte te boer, vereis dat diere twee of meer maal langer gehuisves word as wat die geval is vir karkasse wat vir die braaikonynmarkte bestem is. Die vereiste behuisingsinfrastruktuur word langer beset en ’n kostedoeltreffende looimetode of -gerief word benodig. • Die verbruikersweerstand teenoor konynkarkasse in Suid-Afrika (dit word met troeteldiere of taboes geassosieer) kan oor die algemeen uitgeskakel word deur porsies, pasteie, patees, ensovoorts aan te bied. c. Beskikbaarheid van vereiste insette Kies die regte konyn Moets: • Koop gesonde konyne met helder oë, droë neuse en skoon ore en pote. Die konyn se pels moet glad en skoon wees en die tande netjies langs mekaar. • Dit is die beste om teeldiere van ongeveer ses maande oud te koop en om hulle elke drie jaar te vervang. • Kies konyne van ouers met ’n goeie teelrekord. ’n Wyfie wat nie goed presteer nie, sal ook ’n swak nageslag hê. Moenies: • Moenie ’n volwasse wyfie koop nie, omdat dit nie altyd moontlik is om te sê hoe oud sy is nie. Sy kon al die einde van haar reproduktiewe lewe bereik het en sal dan van geen nut wees vir teling nie. Lang toonnaels is ’n teken dat die konyn ouer is. Huisvesting • Konyne het baie eenvoudige huisvesting nodig. Of ’n men ́