Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 571

569 2. Donkies, vervoer en die omgewing • Die vervoer van donkies is problematies, want hulle reageer nie goed op vervoer op vragmotors nie – hulle gaan dikwels in transito dood – en kan nie altyd regkom met die nuwe omgewing se plantegroei wat verskil van dié waaraan hulle gewoond is nie. (Kyk ook in die afdeling Voeding en vervoer hieronder.) Dit is die beste om donkies plaaslik te koop, en die beste manier om hulle te vervoer is om hulle te laat loop. • Wat die grond betref, kan vermeld word dat donkies lig is en klein hoewe het, en hulle veroorsaak dus minder verdigting as groter diere, soos beeste of perde, en natuurlik as trekkers en vragmotors. Sover dit plantegroei aangaan, het donkies relatief lae voedingsbehoeftes vergeleke met beeste en perde, en omdat hulle baie selektief vreet, laat hulle baie plante en grasse staan; hulle sal verkies om eerder ver te loop op soek na waarvan hulle hou, eerder as om op een plek te bly en alles te eet. Omdat dit hulle help om droogtes so goed te deurstaan, is hulle dikwels ook die enigste diere wat ’n droogte oorleef. Mense blameer hulle soms vir die kaal veld, maar in werklikheid is hulle eenvoudig die oorlewendes wat kan bestaan waar geen ander diere kan nie. 3. Donkies en voeding • Daaglikse rantsoen vir ’n werkdonkie (’n “werkdonkie” is ’n donkie van 200-300kg wat ’n las van 25-70kg teen 4km/h dra vir 6 h/dag). Moet soggens gegee word, en dan weer dieselfde hoeveelheid saans: - 500g graan (bv. mielies, sorghum) wat grof gemaal is, GEVOLG DEUR - 2,5kg kaf (d.w.s. afvalmateriaal verkry wanneer sorghum of giers gewan word) of grondboondoppe. Van die kaf kan deur hooi of strooi (droë gras) vervang word. • ’n Algemene vuisreël is dat ’n donkie daagliks voorsien moet word van strooi of hooi gelykstaande met 5% van sy liggaamsgewig, selfs al eet hy slegs ongeveer die helfte daarvan. As ’n donkie werk en geen geleentheid kry om te wei nie, word spesifieke daaglikse hoeveelhede aanbeveel (sien hierbo). • Ou donkies wat nie meer maklik hulle tande kan gebruik nie, moet fyner gemaalde graan en kaf kry, in effens kleiner hoeveelhede indien hulle nie werkend is nie. Jong, dragtige of lakterende donkies sal dalk ’n ekstra halfkilogram graan nodig hê. ’n Rustende donkie wat nie kan wei nie en kos gegee moet word, het omtrent 1 kg minder as ’n werkdonkie nodig. • Hoewel donkies nie ’n rumen het nie, maak hulle baie goed gebruik van plantsellulose deur middel van ’n gespesialiseerde deel van die kolon en het dus ’n hoë verhouding van sulke ruvoer nodig. Daarenteen kan ’n oormaat proteïene in werklikheid skadelik wees vir donkies, en as aanvullings dus verskaf word, moet dit spesiaal geselekteer word volgens ’n donkie se spesifieke spysverteringsbehoeftes. Beesaanvullings sal nie deug nie, en perdeaanvullings moet met omsigtigheid gebruik word. must be used with caution. • In plaas van ’n sak kan ’n net wat goed om die bek pas, gebruik word om te verhoed dat die donkie self aanvullende voer soek wanneer hy tussen gewasse werk. • Voedselnywerhede in sommige lande vervaardig byvoer vir perde in die vorm van groot korrels, bekend as perdeblokkies. Dit kan met veiligheid aan donkies gegee word – hulle hou baie daarvan. Daar moet egter altyd in gedagte gehou word dat donkies meer vesel en minder proteïen in hulle dieet nodig het as perde. Hulle is nie net “klein perdjies” nie – hulle is in baie opsigte heeltemal anders. • Selfs al is hulle goed gevoer, sal donkies dikwels hulle eie aanvullende voer soek as hulle die geleentheid kry. Die rede is die verskillende individuele behoeftes van elke donkie. Hulle sal in vuilgoedhope of hoenderhokke soek vir peuselhappies, maar eintlik behoort hulle nie toegelaat te word om dit te doen nie. Hulle kan stowwe inkry wat skadelik vir die spysvertering is, soos plastiek of vleismeel. Hulle kan hulle ook ooreet, of kan verrottende voedsel inkry wat giftige bakterieë of swamme bevat. • Soms kan dit minerale wees waarna donkies soek. Soutblokke of lekke, asook kalsium en fosfor in poeiervorm (die belangrikstes), kan soms by verskaffers van plaasvoorrade verkry word. WAARSKUWING: Ureum, wat soms by beeslekke ingesluit word, is in groot hoeveelhede giftig vir donkies. • ’n Ongereelde aanvulling wat minerale verskaf en ook met konstipasie kan help, is melasse. Omdat dit soet is en hulle tande kan laat verrot, moet donkies dit nie te dikwels in groot hoeveelhede inkry nie. Dit is egter baie goed vir hulle gesondheid en hulle is baie lief daarvoor. As dit met hulle aandlekkernytjie gemeng word om hulle huis toe te bring, kan dit ’n kragtige uitwerking hê. • Byvoer moet in skoon houers gegee word wat nie maklik deur die donkies omgeskop kan word nie – en daar moet genoeg houers wees sodat die donkies nie vir voorrang hoef te veg nie. Kos is die een ding waarin ’n donkie bowenal belangstel. • Een manier om seker te maak dat ’n donkie genoeg kry om te eet, is om minstens die veselinhoud in die vorm van hooi te verskaf – droë gras of kleiner graanstingels wat in die naghuisvesting in ’n hooinet beskikbaar is. Dit sal altyd die donkie saans huis toe laat kom. Dit moet egter nie sommer op die grond gegooi word nie. Nette met groot maas kan van pale of mure af gehang word, en die ratse bekke van die donkies sal maklik uitkry wat hulle wil hê. Oesreste beskikbaar as aanvullings Sulke reste op ’n hoop in ’n kampie waarin donkies gehou word, kan as byvoer gedurende die droë seisoen dien. Indien dit egter skimmel, kan dit nadelig vir die donkies wees. ’n Hooinet wat ongeveer 6 kg strooi hou – die daaglikse rantsoen van een donkie – kan maklik van tou gemaak word sodat dit weg van die klammigheid gehou kan word en soos nodig opgetrek en laat sak kan word. Voeding en vervoer • Donkies kan nie so maklik op vragmotors vervoer word soos beeste en skape nie, en mense wat donkies koop en verkoop, moet hiervan bewus wees. Dit gebeur maar te dikwels dat donkies ’n dag of twee nadat hulle by hulle bestemming aangekom het, doodgaan. Dit kan om ’n aantal redes gebeur, waarvan een kan wees dat hulle van hulle maats geskei is, of bloot vanweë die vrees wat die reis veroorsaak. Albei dié redes kan ’n senureaksie behels wat die donkie se bloedsuikervlakke laat daal. ’n Tydperk sonder voedsel sal ook daartoe bydra, en ’n mens moet onthou dat donkies voedsel vinniger verteer as herkouers soos beeste, skape en bokke, en dus meer gereeld kos moet kry. In normale omstandighede sal ’n dag of twee sonder voedsel nie ’n donkie doodmaak nie, maar ’n donkie wat onder stres verkeer, is ’n heeltemal ander saak. ’n Donkie wat bang is of enige ander senu-ontwrigting beleef, sal waarskynlik nie wil eet nie, en dit kan die probleem net vererger. Die angstigheid kan ook diarree veroorsaak, wat die donkie se spysverteringstelsel verder onder stres sal plaas en hom sal ontwater. • Op sigself kan die daling van die bloedsuikervlak reeds dodelik wees, maar dit kan verhoed word as die donkies ’n glukose-inspuiting kry onmiddellik voor die reis begin. Dit laat die ander sake wat aandag moet kry: fisiese besering veroorsaak deur ander donkies en die voertuig, die uitwerking op die donkies se gedrag, en ontwatering. • Dit is baie beter, en waarskynlik ook goedkoper, om die donkies te voet te laat aanjaag as om hulle op ’n vragmotor te vervoer. Dit is wel stadiger, maar dit het ’n baie minder rampspoedige uitwerking op donkies. 4. Donkies en werk • Doeltreffende gebruik van donkies vereis tegnologie wat pas by die diere se grootte, vorm en vermoëns. Donkies in Afrika suid van die Sahara word toenemend gebruik as pak-, kar- en ploegdiere, wat al drie verskillende tegnologieë vereis. Die tegnologie wat vir trekfunksies gebruik word, is nie so goed gevestig nie en vereis aandag. Dit is veral belangrik omdat donkies toenemend gebruik word om die rol van osse oor te neem, selfs in die mate dat hulle moet werk met toerusting wat tradisioneel deur osse getrek is. Dit kan die donkies maklik beseer. Elders het donkies ook by perde oorgeneem, maar selfs dan sal hulle dikwels ander toerusting nodig hê. • Om te spesifiseer watter tegnologie en toerusting vir donkies geskik is, moet die eienskappe van die krageenheid (d.w.s. die donkie) omskryf word. Gedetailleerde inligting in die literatuur is skaars en moontlik verdag. ’n “Tipiese” Afrikadonkie weeg ongeveer 140kg en het ’n