Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 557

555 lewende hawe Bokke – sybokhaar Vir inligting wat vir bok-ondernemings van belang is, kyk in die “Bokke”hoofstuk. 1. Oorsig Sybokhaar is een van die seldsame edelvesels van die wêreld. Dit is veral geskik vir kleding, breiware, gordynmateriaal, stoffering, kouse, sjaals en bykomstighede. Besoek www.mohaircollection.co.za vir inligting oor die reeks sybokhaarprodukte wat beskikbaar is. Die warm, droë somers, koue winters en semiwoestynagtige plantegroei van die Karoo is gepas vir Angorabokke. Angorabokke word ten minste twee maal per jaar geskeer en die jaar word in die somer- en winterbemarkingseisoen verdeel. Boere in die Oos-Kaap produseer feitlik al die sybokhaar in Suid-Afrika, en aangesien Suid-Afrika tot 54% van die wêreld se sybokhaarproduksie bydra, kan Port Elizabeth voorwaar die sybokhaarhoofstad van die wêreld genoem word. 2. Plaaslike sakeomgewing Die maandelikse nuusbrief van Sybokhaar SA verskaf die jongste inligting in die bedryf. Dit is onder die “nuus”-keuselysopsie op www.mohair.co.za beskikbaar. Resultate van veilings, klasstandaarde en so meer kan op dieselfde webtuiste gevind word. Suid-Afrika is die wêreldleier in sybokhaarproduksie en voer meer as 95% van die totale produksie uit, hoofsaaklik in verwerkte vorm. Die SuidAfrikaanse sybokhaarbedryf is uiters afhanklik van die internasionale mark; hoofsaaklik omdat die plaaslike mark nie groot genoeg is om die bedryf te ondersteun nie (d.i. sybokhaarprodukte is nie bekostigbaar vir die meerderheid Suid-Afrikaanse bevolking nie). Die wisselende wisselkoers kan heelwat probleme vir die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf veroorsaak. Die afname in sybokhaarprodukte is ’n groot bekommernis vir die bedryf. Die nuutste inligting oor sybokhaar verskyn in die nuusbriewe van Sybokhaar SA. Deur ’n skenking van die Sybokhaartrust en in samewerking met Sybokhaar SA as projekkoördineerder, spog die Oos-Kaapse dorpie, Jansenville, wat in die hart van die sybokhaarwêreld geleë is, met die land se eerste sybokhaarmuseum. Die tema in die museum is ‘Van veld tot vesel en die toekoms’. Die uitstallings vertoon die logiese opeenvolging van die werklike prosesse – van skeer tot vesel tot eindproduk. Bykomend hiertoe is daar ook uitstallings van geskiedkundige artikels wat gekoppel is aan ’n opvoedkundige belewenis van die sybokhaarverhaal. Lees meer by www.mohair.co.za. 3. Internasionale sakeomgewing Suid-Afrika is die wêreldleier in sybokhaarproduksie wat betref produkkwaliteit asook produksie en lewer ’n bydra van ongeveer 54% (2.9 miljoen kilogram) tot die wêreld se sybokhaarproduksie. Ander sybokhaar produserende lande in die wêreld sluit Lesotho (die tweede hoogste produseerder), die Verenigde State van Amerika, Turkye, Argentinië, Nieu-Seeland en Australië in. Kleiner getalle Angorabokke word in Mexiko, Iran, Chile, Swaziland, Kanada, Spanje en in die Verenigde Konginkryk gevind. Suid-Afrikaanse sybokhaar word oorwegend na Asië (China) en die Europese Unie (Italië) uitgevoer. Die sybokhaarmark word tradisioneel grootliks deur die modeneigings beïnvloed wat bepaal of daar ’n aanvraag is of nie. Dit is een van die redes waarom daar so nou en dan onbestendigheid ten opsigte van die aanvraag ondervind word. Die jongste nuus verskyn in die nuusbriewe van Sybokhaar SA. Bron: www.tradeandinvestcacadu.co.za/agro/moh 4. Sybokhaarboerdery Die klasstandaarde is op www.mohair.co.za beskikbaar. Kies die “Growers”- en “Classing standards”-kieslysopsies. Die Oos-Kaap was nog altyd die belangrikste Angoraboerderygebied in Suid-Afrika en sybokhaarboerdery word vandag hoofsaaklik binne ’n radius van 300km vanaf Port Elizabeth bedryf. Gevolglik vorm die stad die kern van die sybokhaarbedryf. Gevorderde teel- en boerderytegnieke in die land verseker deurlopende beskikbaarheid en veselkwaliteit. Met hierdie doel voor oë word daar noulettend aandag geskenk aan die seleksie van vee om uitstaande genetiese teelmateriaal te verseker. Namate die bokkies ouer word, verhoog die veseldeursnee. ’n Klein bokkie se eerste skeersel lewer sybokhaar van ongeveer 26 mikron wat vir enigiets tot R250,00 per kilogram verkoop kan word. Die mikrondeursnee van die volgende skeersel neem toe en dit het tot gevolg dat die verkoopprys daal. ’n Ideale trop bokke sal natuurlik uit soveel moontlik bokke bestaan sodat die beste inkomste per trop verkry kan word. Dit is ’n kudde teelooie met hoë vrugbaarheid wat soveel boklammers moontlik sal produseer. Om dit te bereik moet daar ’n deeglike teelbeleid bestaan wat konsentreer op die teeldiere wat by die weiding in die gebied aangepas is. ’n Goeie seleksie van teelooie en ook die teel en aankoop van goeie teelramme om in die teeltrop te gebruik, is belangrik. ’n Goeie teelprogram behels natuurlik die uitdunning van ou diere en swak telers. Jong ooie moet as vervanging van ou en swak telers geklassifiseer word en die boer moet verseker dat goeie ramme geteel of aangekoop word. Die ooie moet tydens lamtyd goed versorg word. Sodra die pasgebore boklammers hul eerste biesmelk gedrink het, gaan dit gewoonlik goed met die lammers. Na ses maande is hulle gereed om die eerste keer geskeer te word. Die skeertegniek van ’n Angorabok is net so belangrik soos by ’n wolskaap. Daar moet veral daarteen gewaak word om twee keer op dieselfde plek te skeer ten einde te verseker dat die sybokhaar ewe lank is. Lengte is ’n belangrike faktor by die verkoop van sybokhaar. Met hierdie doel voor oë moet daar deeglik aandag geskenk word aan die seleksie van vee om uitstaande genetiese teelmateriaal te verseker. Inligting oor nuwe boere ’n Bemagtigingtrust, die Mohair Empowerment Trust, is in 2011 deur die sybokhaarbedryf bekendgestel om aan swart boere en entrepreneurs ondersteuning te bied en deel van die sybokhaarbedryf te wees. Besoek www. mohairempower.co.za. Ten einde sybokhaar van hoë gehalte te lewer, is deeglike teelprogramme van uiterste belang. Dit is moeilik om teelprogramme in gemeenskaplike weiding waar die veld aan almal behoort toe te pas omdat alle \H