Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 513

511 akkerbou & tuinbou Sojabone Sien ook die hoofstuk oor Graan en Oliesade. 1. Oorsig Soja lewer ná mielies, koring en rys die grootste oes ter wêreld op. Dit is ’n uitstekende wisselgewas met duidelik waarneembare voordele vir die gewasse wat aangeplant word nadat die soja geoes is. Sojabone word hoofsaaklik in droëlandtoestande verbou, veral in Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Noordwes. (Raadpleeg die kaart op www.sppcom.com om te sien waar soja in Suid-Afrika verbou word). Afhangende van plaaslike toestande, word sojabone gewoonlik in November en Desember geplant. Die plant reageer op dag-nag-verhoudings, wat die reproduksieproses stimuleer. Indien daar in Januarie geplant word, sal die plant korter wees met ’n laer oespotensiaal, aangesien die dae gedurende die plante se groei korter begin word. Tydens rypwording word die blare geel en die voginhoud van die sade daal – van ongeveer 65% tot 14% binne 14 dae – indien weerstoestande droog en warm is. Suid-Afrika is ’n netto invoerder van ongeveer 600 000 ton sojameel, ongeveer 800 000 ton plantolie en ongeveer 50 000 ton voedselbestanddele van soja. Statistieke (bv oesskattings en invoere/uitvoere) is beskikbaar op die SuidAfrikaanse Graan Inligtingsdiens se webtuiste – www.sagis.org.za. Sojabone is wêreldwyd ’n belangrike bron van plantolie en proteïen, en daar is toenemende belangstelling in sojaprodukte by mense wat gesonder wil lewe. Soja bevat beduidende hoeveelhede van al die essensiële aminosure wat die mens nodig het. Sojabone kan as ’n groente geëet word, maar kan ook tot sojamelk verwerk word. Sojasous kan van die ryp, gefermenteerde bone gemaak word, terwyl geroosterde sade as ’n vervanging van koffie gebruik kan word. Sojameel, wat ook uit sojabone vervaardig word, word as bymiddel en aanvuller in graanmeel, vleisprodukte en gesondheidsvoedsel gebruik. Sojaboonmeel is ’n baie ryk proteïenvoer vir vee, terwyl die vegetatiewe gedeeltes van die plant as kuilvoer, hooi of weiding gebruik kan word. Dit kan ook as groenbemesting ingeploeg word. Soja-olie word gebruik by die vervaardiging van verf, linoleum, oliedoek, drukkersink, seep, insekdoder en ontsmettingsmiddels. Die lesitienfosfolipiede wat as ’n neweproduk van die oliebedryf bekom word, word as benattings- en stabiliseringsmiddel in die voedsel-, grimerings-, farmaseutiese, leer-, plastiek-, seep- en reinigingsmiddelbedryf gebruik. Sojaboonmeel en sojaproteïen word by die vervaardiging van sintetiese vesel, kleefstowwe, tekstielplanering, waterdigting en brandbestrydingskuim gebruik. Die strooi kan ook gebruik word om papier te maak wat stywer is as papier wat van koringstrooi gemaak word. Vir inligting oor die gebruik van sojabone vir biobrandstof, kontak Rainbow Nation Renewable Fuels of besoek www.rnrf.co.za. 2. Internasionale sakeomgewing Sien die “Monthly Bulletin“ op SAGIS se webtuiste vir die jongste inligting oor invoere/uitvoere. Die sojaboon verskaf plantproteïen van goeie gehalte aan miljoene mense en diere, asook bestanddele vir talle chemiese produkte. Sedert die laat 20ste eeu het sojabone ’n belangrike rol gespeel in die verligting van hongersnood in die wêreld. Die belangrikste produsente van sojabone is die Verenigde State van Amerika, Brasilië, Argentinië, China en Indië. Die invoertarief vir sojabone is 8% van die VAB-prys (Suid-Afrika is ’n netto invoerder). Die binnelandse prys (SAFEX) volg gewoonlik die invoerprys (gegrond op sojameel en -olie) na. Wat uitvoere betref, moet voldoen word aan fitosanitêre vereistes en gehaltestandaarde, en moet ’n sertifikaat van die Raad van Toesig op die Uitvoer van Bederfbare Produkte (PPECB-sertifikaat) verkry word. Bron: SAGIS Besoek die volgende webtuistes: • American Soybean Association (ASA) – www.soygrowers.com • Ohio Soybean Council en die Ohio Soybean Association – www.soyohio.org • World Initiative for Soy in Human Health (WISHH) – www. wishh.org • www.ussec.org – US Soybean Export Council • www.soyconnection.com – ’n webtuiste wat inligting verskaf en deur die United Soybean Board (VSA) bestuur word. • www.unitedsoybean.org – United Soybean Board (USA) • www.cmegroup.com – Chicago Board of Trade (deel van die CME-groep) • www.ift.org – Institute of Food Technologists (US). 3. Plaaslike sakeomgewing Die regulasies met betrekking tot die gradering, verpakking en bemarking van sojabone vir verkoop in die Republiek van Suid-Afrika is verkrygbaar op www.graansilo.co.za. • Die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf het ’n negatiewe handelsbalans: ons verbou nie genoeg soja vir eie gebruik nie. • Geen statutêre heffings is tans van toepassing nie en oliesade kan vrylik bemark word. Die Suid-Afrikaanse Termynbeurs bepaal op ’n daaglikse grondslag die binnelandse pryse. Die relatiewe pryse van ander graanprodukte, die wisselkoers, die beskikbaarheid van saad, die beskikbaarheid en koste aan wal van ingevoerde ruolie, sowel as aanplantings van ander oesgewasse, bepaal in groot mate die markvooruitsigte van sojabone. • Die sojaboon-bemarkingseisoen in Suid-Afrika begin op 1 Januarie en eindig op 31 Desember van die kalenderjaar. 4. Inligting vir boere Redes vir die verbouing van sojabone: • diversifisering weg van mielies • toenemende vraag na veevoer • toenemende sojavoedselproduksie • biodiesel uit sojabone • sojabone is een van die min oesgewasse wat in wisselbou met koring verb