505
4. Belanghebbendes
Chicory SA Beperk is in die Oos-Kaap gesetel, en sy produkte word plaaslik
sowel as internasionaal aan vervaardigers en verbruikers bemark. Chicory
SA se produkte sluit in gedroogde sigorei, geroosterde sigorei en vloeibare
sigorei-ekstrak, sowel as suiwer, kafeïenvrye sigorei wat aan die plaaslike
mark verskaf word. Chicory SA verskaf ook noodsaaklike bestanddele aan
die vervaardigers van ’n verskeidenheid topverkoper-handelsmerke wat
kommersieel in groot kettingwinkels beskikbaar is. Besoek www.chicory.
co.za of bel 046 653 0048. Die Suid-Afrikaanse Sigoreiprodusenteorganisasie is by hierdie nommer ook beskikbaar.
5. Publikasies en webtuistes
Twee publikasies kan van die LNR bestel word:
• Chicory, ’n brosjure wat van die LNR in Roodeplaat bestel kan word.
Kontak 012 841 9611 of faks 012 808 0844.
• Processing of Industrial Crops (chicory, coffee, sugar cane, tea) kan van
die LNR in Silverton bekom word. Skakel 012 842 4017 of e-pos
[email protected].
Notas oor sigorei kan op Chicory SA se webtuiste, www.chicory.co.za,
aangetref word.
Besoek http://chicoryusa.com
Bronne: www.chicory.co.za; www.endivia.co.za en Farmer’s Weekly, 10 Desember
2010, die artikle“Revitalising local chicory”.
Ons dank aan Paul Griffiths van Chicory SA vir terugvoering oor die
konsephoofstuk.
akkerbou & tuinbou
Sitrusvrugte
Raadpleeg ook die hoofstuk “Vrugte”
1. Oorsig
Sitrus beslaan die volgende breë kategorieë: lemoene, sagte sitrus, pomelo’s,
suurlemoene en lemmetjies. Die vrugte kan vars geëet word, of verwerk
word vir die vervaardiging van vrugtesap, sapkonsentrate en droëvrugte.
Die skil van sitrusvrugte kan ook verwerk word tot vlugtige olie, wat deur
geurselmaatskappye gebruik word om bepaalde smake by drankies en
voedsel te voeg, deur farmaseutiese maatskappye en die kosmetiekbedryf,
en in aromaterapie.
Die streke waarin sitrus verbou word, ondervind uiteenlopende
klimaatstoestande, byvoorbeeld:
• die halftropiese gebiede van die laagliggende oostelike kusstreek
(Zimbabwe en Mosambiek, en die provinsies Limpopo, Mpumalanga
en KwaZulu-Natal van Suid-Afrika)
• die hoër liggende, subtropiese gebiede (Nelspruit, Letaba en die
middelveld van Zimbabwe)
• die koel kusgebiede van die Oos- en Wes-Kaap
Die noordelike en oostelike gebiede van suider Afrika is somerreënvalgebiede,
terwyl die Wes- en Suid-Kaap ’n mediterreense tipe klimaat met winterreënval
geniet. In die Oos-Kaap kom ’n bimodale reënvalpatroon voor, en reën dit
meesal in die lente en herfs. Hierdie breë klimaatswisseling van halftropies
tot mediterreens het ’n hele aantal besliste voordele, aangesien ’n groot
verskeidenheid kultivars met sukses van laat in Februarie of vroeg in Maart
tot laat in September en die middel van Oktober geproduseer kan word.
’n Natuurramp of ’n ramp wat met plantgesondheid te make het, kan
ook nie al die streke in gelyke mate raak nie, en die aanbod van vrugte uit
Suider-Afrika in sy geheel is dus van jaar tot jaar betreklik bestendig. Hierdie
diversiteit het egter ook nadele ten opsigte van wisseling in die gehalte van
dieselfde kultivar in verskillende streke.
Sitrusproduksie fokus hoofsaaklik op uitvoer en word dus in hoë mate
aan mededinging blootgestel. Dit is dus deurslaggewend om ’n goeie
(kostemededingende) posisie te handhaaf, vrugte van hoogstaande gehalte te
lewer (wat beteken dat hulle aan plantgesondheidstandaarde moet voldoen)
en op die hoogte te bly van veranderinge in wêreldmarktendense.
2. Interessante inligting vir kwekers
Sitrusverbeteringsprogramme en kwekerypraktyke
Die meeste sitruskwekerye in Suider-Afrika neem aan die Sitrusverbeterings
program (SVP) deel. Die SVP bedien die sitrusbedryf deur ’n gesentraliseerde
okuleerhoutverskaffingsplaas (Sitrusmoederblok of SMB) naby Uitenhage,
nie ver van Port Elizabeth nie. Tans verskaf die SMB alle gesertifiseerde
voortplantingsmateriaal aan geakkrediteerde kwekerye. ’n Kernblok van
virusvrye materiaal van alle kultivars word by die Landbounavorsingsraad se
Instituut vir Tropiese en Subtropiese Gewasse op Nelspruit in stand gehou.
Onderstamme
In die 1980’s en die 1990’s het Troyer- en Carrizo-citranges en Swinglecitrumelo geleidelik die gewildste onderstamme geword. Hierdie aspek is
belangrik vir toekomstige mededingendheid, omdat dit die Suider-Afrikaanse
sitrusbedryf in staat stel om vrugte van hoë eetgehalte te produseer. Die
Suider-Afrikaanse sitrusbedryf ding mee met sitrusproduksiestreke soos
Argentinië, Uruguay en Australië, waar drieblaarlemoen-onderstamme
verkies word omdat dit die entloot meer bestand teen koue maak.
Planttyd en prosedure
Aangesien die meeste kwekerye bome in houers produseer, is die tyd
wanneer die boord gevestig word, nie krities nie. Die beste planttyd in
kouer, winderige gebiede is egter die vroeë lente (September/Oktober).
Kwekerybome word gewoonlik op 60 tot 70cm hoog afgesny om
raamontwikkeling op ’n hoogte van 40 tot 60cm te laat plaasvind. Daar is
deesdae belangstelling in die plant van opgeleide ongesnoeide bome vir
vroeër produksie in stadiggroeiende streke soos die Wes-Kaap.