Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 371

369 Die bekendstelling van GIS (geografiese-inligtingstelsels) en ander rekenaarondersteunde karteringstelsels; koordlose toepassings en GPS (globale posisioneringstelsels) het nuwe dimensies tot kartografietegnieke en die gebruik van ruimtelike inligting toegevoeg. Konvensionele karteringstegnieke word al meer met rekenaartegnologie vervang. Laboratoriumwerker/Ontleder Laboratoriumtegnici of -tegnoloë help die wetenskaplikes (in die fisiese, chemiese, biologiese en lewenswetenskappe) deur monsters te versamel, eksperimente uit te voer, mate te neem en uitslae aan te teken. ’n Chemieselaboratorium-tegnikus of -tegnoloog help om chemiese en verbandhoudende produkte te ontwikkel, produseer en gebruik. Landmeter Landmeting (ook geomatika genoem) is die wetenskap van die opmeting en kartering van die aardoppervlak, wat natuurlike en mensgemaakte kenmerke en die see insluit. Na ’n aantal jare in die veld kan landmeters as een van die volgende spesialiseer: Hidrografiese landmeter; Landmeter — ook kadastrale landmeters genoem; Ingenieurslandmeter — meet roetes vir pyplyne, rioolslote, tonnels, paaie en spoorweë uit; Topografiese landmeter — doen opmetings en neem lugfoto’s van fisiese kenmerke op die aarde soos riviere, heuwels en valleie om kaarte daarvolgens saam te stel; Geodetiese (aardmeetkundige) landmeter — bepaal posisies op die aarde se oppervlak baie akkuraat deur gebruik te maak van satellietseine (bv. die globale posisioneringstelsel of GPS); die posisies van die sterre en elektroniese afstands- en gelykmakings-afmetings; Mynlandmeter — bepaal die grense van myne, ondergrondse afmetings en oopgroefmyne; Afstandswaarnemingslandmeter — monitor veranderinge in die aarde se kenmerke deur die gebruik van digitale data van hoëresolusiesatelliete en ander beeldstelsels in die lug. Maatskaplike werker Maatskaplike werk behels die welstand van mense en hulp aan mense om probleme te hanteer wat veroorsaak word deur swak sosiale toestande, werkloosheid en armoede. Inligtingstegnologiespesialis Mens wat met inligtingtegnologie (IT) werk hou hulself besig om rekenaars te programmeer om take uit te voer (rekenaarprogrammering), rekenaarprogramme te ontwerp en ontleed (stelselontleding), administrasie van databasisse en netwerke, bedryf van rekenaarstelsels en die ontwerp van hardeware. Beroepe wat met IT te doen het sluit die volgende in: webtuiste-ontwerper, netwerkkontroleur, rekenaarkonsultant, elektroniese ingenieur, persoonlikerekenaarondersteuningstegnikus, Internetdienste en ondersteuningstegnikus. Meganiese ingenieur ’n Meganiese ingenieur ontwerp, ontwikkel, produseer, installeer, bedryf, toets en onderhou masjinerie en meganiese toerusting. Meganiese ingenieurs word bygestaan deur meganiese-ingenieurstegnoloë en -tegnici en hulle werk almal nou saam met ander professionele persone (bv. met argitekte in die ontwerp van lugversorgingsaanlegte). Meganiese ingenieurs, tegnoloë en tegnici spesialiseer gewoonlik op ’n bepaalde gebied en die meganiese toerusting wat daarmee gepaard gaan. Die volgende is enkele voorbeelde: • Landbou — trekkers, dorsmasjiene, stropers, melkmasjiene en verpakkingsmasjiene • Water — ontwerp en bou wateraanlegte en verwerkingsaanlegte vir afvloeiwater • Kragopwekking — stoom-, water-, gas- en kernkragturbines wat gebruik word om kragopwekkers aan te dryf Mensehulpbron- of personeelbestuurder Mensehulpbron- of personeelbestuurders bemoei hulle met die mense by die werk en hul verhoudings met mekaar en die organisasie, bv. indiensneming, opleiding of mensehulpbronontwikkeling, organisasiebeplanning en ontwikkeling, arbeidsverhoudinge, besoldiging, navorsing en administrasie. Meteoroloog ’n Meteoroloog bestudeer die aarde se atmosfeer en die verandering daarin wat die daaglikse weer, langtermynklimaat en uiterste weerstoestande soos orkane en tornado’s beïnvloed. ’n Weerkundige voorspel die weersomstandighede deur neigings in die atmosfeer, soos winde, neerslag en lugdruk, te bestudeer. ’n Verbandhoudende beroep is dié van meteorologiese tegnikus wat verantwoordelik is vir die insameling van meteorologiese inligting en vir die bedryf en instandhouding van weerwaarnemingsnetwerke. Navorser Navorsers voeg kennis by tot hul bepaalde velde. Navorsers kyk na dit wat oor die bepaalde veld bekend is en toets hierdie teorieë om te kyk hoe waar dit is. Navorsers versamel inligting en organiseer dit op so ’n manier dat mense verskillend daarna kyk. Navorsers word ook aangemoedig om, indien moontlik, nuwe tegnologie te ontwikkel. ’n Navorser in basiese of fundamentele navorsing in die natuurwetenskappe bestudeer en probeer bepaal watter beginsels en wette die biofisiese wêreld onderlê en beheer. ’n Navorser wat by toegepaste navorsing betrokke is, soek praktiese maniere om basiese navorsing te doen. Albei tipes navorsing is nodig. Hoe meer ons daarvan weet en leer, hoe meer toepassings is moontlik. Innovering is die eindproduk van hierdie tipe na ٽ