207
insette
Biobestryding
Biologiese bestryding, geïntegreerde plaagbestuur (IPM) en ander
omgewingsvriendelike bestrydingsmetodes
1. Oorsig
Biologiese bestryding behels die gebruik van ’n plaag se natuurlike vyande
(parasiete, predatore en patogene) – hetsy doelbewus vrygestel of andersins
gemanipuleer – om die plaagpopulasies tot ’n aanvaarbare vlak uit te dun.
Die woord “plaag” word hier in die breë sin gebruik en sluit siektes, insekte,
myte, nematodes, onkruid en/of uitheemse indringerplante in.
Hoewel daar in beginsel weinig verskil is tussen die biologiese bestryding
van siektes, insekplae en onkruid, word daar tog algemeen aanvaar dat
’n veel hoër graad van gasheerspesifisiteit vereis word vir ’n onkruidbiobestrydingsmiddel as vir ’n plaag-biobestrydingsmiddel. Die meeste
plaag-biobestrydingsmiddels maak hul gasheer direk dood, terwyl die
onderdrukking van onkruid kan plaasvind deur die onkruidplant dood te
maak of te verswak, deur sy voortplantingsvermoë te verminder, of deur ’n
toegang vir infeksie deur patogene te skep.
Verskillende tegnieke kan in biologiese bestryding gebruik word:
a. Die algemeenste tegniek vir die bestryding van insekplae en onkruid
staan bekend as klassieke biologiese bestryding. Dit behels die
vrystelling van natuurlike vyande uit die voorkomsgebied van die plaag
of onkruid in sy land van oorsprong, waarna die natuurlike vyande in
die nuwe land gevestig raak, hul getalle vermeerder en hulle in die
nuwe omgewing aanbly.
b. Inundatiewe biologiese bestryding behels die herhaalde vrystelling
van groot getalle natuurlike vyande.
c. Versterkende biologiese bestryding beskryf handelinge wat die
populasies van natuurlike vyande laat styg.
d. Bewaringsbiologiese
het
betrekking
op
bestryding
omgewingsmodifikasie om natuurlike vyande te beskerm en te
bevorder.
Daar kan nie verwag word dat biologiese bestryding alle plaag- of
onkruidprobleme in ’n bepaalde situasie moet oplos nie, maar dit behoort
nogtans die kern te wees waarrondom plaag- of onkruidbestuurstelsels
gebou word. Biologiese bestryding is dikwels slegs moontlik binne die
raamwerk van ’n geïntegreerde plaagbestuurstelsel (IPM-stelsel: integrated
pest management).
2. Waarom is ’n alternatief nodig?
Plaagdoders het die landbou totaal hervorm; dit het opbrengs vergroot
en die gehalte van oeste verbeter, maar die oorblywende, opgehoopte
voorrade daarvan kan die omgewing besoedel en menselewens in gevaar
stel. As ’n plaagdoder oor die vermoë beskik om dood te maak, hou dit ook
’n risiko vir die omgewing in. Sommige plaagdoders is skadelik vir mense en
die omgewing omdat dit lank in die grond, die lug en die water bly, maklik
deur water en lug versprei word en in streke wat hoog bo seevlak is en lae
temperature het, akkumuleer.
Die onverantwoordelike gebruik van nieselektiewe plaagdoders vernietig
nie net die teikenplaag nie, maar ook baie voordelige organismes wat
’n belangrike rol speel in tuin-, gewas- of natuurlike ekostelsels. Van die
antwoorde op ons plaagprobleme is dalk vlak voor ons, soos die allerkleinste
mikrobe in die grond, ’n swam, bakterie, virus of nematode, of een van
die talle parasitiese of roofinsekte, of reptiele, voëls en soogdiere in ons
omgewing. Organismes wat ons dalk as “plae” beskou, het ’n plek in die
groter prentjie. Sonder hulle sou daar nie die wonderlike voëls, spinnekoppe
en reptiele op ons plase gewees het nie.
Programme wat die verantwoordelike gebruik en wegdoening van
landbouchemikalieë bevorder, word aangebied deur CropLife SA en
CropLife International (kyk die hoofstuk ‘Oesbeskerming’).
3.
Biologiese bestryding van landbouplae deur
predatore en parasiete (insluitende IPM) te gebruik
Die biologiese bestryding van landbouplae maak normaalweg deel uit van ’n
geïntegreerde plaagbestuursprogram (IPM-program). IPM is die integrasie
van twee of meer bestrydingstrategieë vir die onderdrukking van die plaag
tot onder ’n gegewe drempelvlak. Talle suiwer chemiese strategieë is ook
daarop gemik om plaagpopulasies tot onder ’n sekere drempelvlak te kry en
nie om hele populasies van die plaag te vernietig nie.
IPM is gebaseer op die aanname dat dit nóg nodig, nóg kostedoeltreffend is
om ’n hele plaagpopulasie te probeer uitskakel. Drempelvlakke word eerder
vasgestel om te bepaal wanneer bestryding nodig is om die populasievlakke
van plae te verlaag. Wanneer die plaaggetalle ’n drempelvlak bereik, kan ’n
plaagdoder gebruik word ter voorkoming van oormatige skade aan gewasse
of van verliese wat groter is as die koste van die voorkoming van skade. IPMprogramme verg deeglike begrip van verskeie tegnieke, soos biologiese,
verbouings-, meganiese en chemiese bestrydingsmetodes. Optrede wat
noodsaaklik is ter ondersteuning van geïntegreerde plaagbestuur, sluit die
volgende in: die korrekte identifisering van die plaag, plaagmonitering en die
vasstelling