Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 206

204 omskryf as enige grondbewerking wat minstens 30% van die grondoppervlak bedek laat met plantreste direk nadat aanplanting plaasgevind het. In Afrika sluit hierdie term egter alle gewasproduksiestelsels in wat ten doel het om doeltreffender gebruik te maak van natuurlike en menslike hulpbronne terwyl omgewingsagteruitgang terselfdertyd beperk word, hoofsaaklik weens die probleme wat baie boere ondervind om die instroming van lewende hawe ná die oes van gewasse uit te sluit of te beheer. Om dit eenvoudig te stel: al hierdie metodes laat plantreste tussen groeiseisoene op die grondoppervlak agter. Dit verskaf ’n beskermende laag wat wind- en watererosie verminder, verdamping verlaag, die wegvloei van water verminder en gevolglik die beskikbaarheid van grondwater (uit besproeiing of reën) dramaties verhoog. Organiese materiaal, die sleutelbestanddeel in grondproduktiwiteit, neem toe, asook erdwurms, bewaringsgrondbewerking se “biologiese ploeg”, wat dieselbehoeftes tot 50% of meer verminder. Enkele vorme van bewaringslandbou: Bewaringslandbou, soos omskryf deur die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies (FAO), word internasionaal aanvaar as die beste gewasproduksiestelsel en sluit alle boerderystelsels in wat voldoen aan die beginsels van • voortgesette minimale grondversteuring (insluitend GEEN grond-omkering) – om wortelkanale te behou en die opbou van grondbiotabevolkings en dus ook grondstruktuur, te bevorder • permanente organiese grondbedekking (hetsy deur lewende gewasse of deur oes- of ander plantreste) – om die impak van reëndruppels en waterafloop (en gevolglik grondverlies) te verminder • diversifikasie van oesspesies wat in opeenvolging en/of assosiasies groei (veral wisselbou) – om die diversiteit van voedselbronne en derhalwe grondbiota te verhoog, veral roofdiere, en om plaag- en siektesiklusse te verbreek Let daarop dat hoewel party organiese boere bewaringsboerderye bedryf waarvolgens produksiestelsels meer omkering of bewerking van die grond vereis as normaalweg om die saad of saailinge te plant (byvoorbeeld by die opneem van bemesting), kan sodanige stelsels nie as bewaringslandboustelsels beskryf word nie. Geenbewerking (ook bekend as zerobewerking of direkte besaaiing) is ’n gewasproduksiestelsel wat geen saadbeddingvoorbereiding vereis nie, behalwe om die grond oop te maak (’n gleufie of gaatjie wat in die grond gedruk word) met die doel om die saad of saailing daarin te plaas. Tydens die groeiseisoen word die grond nie bewerk nie. Soos in die geval van bewaringslandbou word onkruid deur deklae, allelopatie (die antagonisme van sommige plante of plantreste jeens ander plante), wisselbou of toepaslike (verkieslik nouspektrum-, biovriendelike) onkruidmiddels beheer. Minimum bewerking is stelsels wat minimale grondmanipulering vir gewasproduksie behels. Dit staan ook bekend as verminderde bewerking. Minimum bewerking se belangrikste doelwitte sluit in: • Om die minimum aantal en minste ingrypende bewerkings te doen om grondtoestande te optimaliseer deur gereeld ’n onderskeid te maak tussen die rygebied en die tussenrygebied. • Om die aantal kere wat oor die land beweeg word tot die minimum te beperk om grondverdigting en strukturele verswakking te voorkom. • Om vog te bewaar. • Om gronderosie te verminder. • Om meganiese energie en arbeidsinsette te verminder. Enkele algemene minimum bewerkingstelsels sluit in: • 0 Bewerk en plant: Trekkergedrewe toerusting berei smal stroke voor deur sekondêre bewerking te gebruik nadat die primêre grondbewerking plaasgevind het en net voordat die planter ingespan word. • Strookbewerking: Kombinasie-eenhede voer strook- of sonebewerking in onbewerkte grond uit net voor die planter (gewoonlik word ’n beitelploeg gebruik met die uitsluitlike doel om die poreusheid en bewortelingsdiepte in die wortelsone te verbeter). Spesifieke praktyke sluit in - Skeur-op-ry: ’n Swaar tand word op ’n diepte van 300-450 mm in die pad van die beplande (dikwels ook die vorige) ry voor die planter getrek. - 0Beitel: Ligter beiteltande word getrek op ’n diepte van 200-300 mm as die enigste bewerking voor aanplanting. • Beitel en skottelploeg: Primêre grondbewerking word uitgevoer deur slegs beiteltande te gebruik, gevolg deur ’n ligte skottelploeg net voor aanplanting. • Skottelploeg-aanplanting: ’n Eenmalige skottelploegbewerking word gedoen voordat aangeplant word om die verdigte grondoppervlak los te maak, onkruid te beheer en die meeste van die reste op die oppervlak te laat. • Bedding-aanplanting: Hierdie metode word algemeen gebruik vir grondvogbestuur, veral by gewasse wat op die oppervlak benat word en waar voortjies op vasgestelde intervalle gemaak word sodat die beddings tussenin opgelig word. Rifgrondbewerking is ’n aanplantingsmetode waarvolgens gewasse bo-op die walletjie of rif, in die voor of langs die kante van ’n rif geplant word. Die walletjies of riwwe kan op die kontoere wees met gegradeerde vore wat in ’n graswaterbaan dreineer, of kort dwarsverbindings gebr