Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 176

174 te vang en dit dan vir aanplanting te gebruik. Ten einde rehabilitasie te laat slaag, moet die helling van die grond so sag moontlik gemaak word. Wanneer die helling te steil is, loop water vinnig daaroor en word erosie versnel. Om te verhoed dat dit gebeur, moet trappe in die helling gelykgemaak word en moet alle erosiebestrydingstrukture met die kontoere langs opgerig word om waterkanalisering te voorkom. Om suksesvolle rehabilitasie te verseker, moet die vloei van die water vertraag word met behulp van ’n waterverswakkingsisteem, wat uit plaaslike materiale soos klippe en takke gebou kan word. ’n Mens moet egter versigtig wees om nie ’n ander terrein te versteur wanneer jy sulke materiale soek nie. Strukture moet so hoog moontlik teen die helling gebou word om te voorkom dat stormwater momentum opbou wanneer dit teen die helling afvloei. Die steilheid van die helling en die graad van versteuring sal die spasiëring van die strukture teen die helling bepaal. Dit is soms feitlik onmoontlik om grond wat baie steil is, te rehabiliteer sonder die gebruik van klimtoerusting en biomatte, wat gebruik word om die hele helling te bedek. Ingrypingsvlakke vir grondstabilisering • Vlak 0: Geen ingryping nie. Die habitat is stabiel en geen erosiebeheermaatreëls is nodig nie, aangesien die rehabilitasie wat natuurlik voorkom, toereikend is. • Vlak 1: Minimum ingryping. Klein kaal kolle op sagte hellings mag herbeplanting met gras of bedekking met ’n stabiliseringsmateriaal verg. • Vlak 2: Geringe tot matige ingryping. Groter areas kaal grond op betreklik sagte hellings mag die afloop van water tydens reënval vergemaklik. Dit kan tot geringe grondverlies aanleiding gee indien kolle nie met gras beplant of met behulp van onbeweeglike materiale gestabiliseer word nie. • Vlak 3: Intermediêre ingryping. Lopende water maak gronddeeltjies los en voer hulle van die perseel weg, wat ’n litteken op die land kan agterlaat. Erosiestrukture behoort opgerig te word en herbeplantingsmaatreëls moet in werking gestel word. • Vlak 4: Matige tot diepgaande ingryping. Wanneer watersnelhede te hoog word, word ernstige ingryping genoodsaak deur die inbring van bykomende onbeweeglike materiale van ’n bepaalde sterkte, wat die onderliggende grond teen erosie kan beskerm. Indien plaaslike materiale nie beskikbaar is nie, kan skanskorwe en tekstielmatte vir hierdie doel gebruik word. • Vlak 5: Maksimum ingryping. Hoewel plantegroei byna altyd gebruik kan word om erosie te kniehalter, word die erosiekragte teen steil, kaal grond soms te groot, sodat plantegroei nie sonder hulp daar kan posvat nie. In sulke gevalle moet erosiestrukture soos skanskorfdwarsmure opgerig word om die beweging van grond te stabiliseer voordat aanplanting kan plaasvind. Dit mag ook nodig wees om steil dongas met plaaslike materiale op te vul voordat ’n grondlaag vir aanplanting gevestig kan word. Uitheemse plantegroei Rehabilitasie mag ook nodig wees wanneer intensiewe indringing deur uitheemse plante plaasgevind het, selfs indien die grond stabiel is. Uitheemse plantegroei vestig hulle dikwels in versteurde gebiede en op kaal grond, dus is daar ’n verwantskap tussen hierdie twee soorte rehabilitasie. Met die oog op rehabilitasie is dit dus noodsaaklik om enige uitheemse plante te verwyder en gereeld op te volg om seker te maak dat hulle nie terugkeer nie. Raadpleeg die hoofstuk oor uitheemse plante in hierdie gids vir verdere i