162
Die brand van vleilande
Vleilande word om baie redes gebrand, byvoorbeeld vir die verbetering
van die weidingswaarde vir lewende hawe, die verwydering van ou, dooie
plantmateriaal, verbeterde produktiwiteit, die beheer van indringerplante,
die vermindering van die risiko van wegholbrande en die verbetering van
die habitat van spesies wat van vleilande afhanklik is. Indien brande verkeerd
aangewend word, kan dit onbeplande negatiewe gevolge hê en daarom is
dit uiters belangrik om die korrekte benadering te volg.
Goeie brandwenke:
• Die vleiland kan elke tweede jaar gebrand word as die reënval meer
as 800mm per jaar is. Brand elke derde of vierde jaar in baie droë
dele van die land (minder as 800mm per jaar). Brand hang ook van
weidingsdruk af. Indien die vleiland op sy maksimum drakrag bewei
word, moet minder gereeld of glad nie gebrand word nie.
• Indien dit moontlik is, verdeel die vleiland in brandblokke en brand
slegs die helfte van elke blok. Die ongebrande deel bied dan skuiling
vir die natuurlewe. Waar dit nie prakties is nie en ’n hele paar
vleilande na aan mekaar lê, brand een hele vleiland terwyl die ander
nie gebrand word nie.
• Dit is ’n goeie idee om koel vure te gebruik. Brand wanneer die gras
klam is ná reën, of saans of vroeg in die môre nadat dit gedou het.
• Brand saam met die wind, want dit is meer beheerbaar en minder
skadelik vir plantgroeipunte.
• Brand aan die begin van die groeiseisoen net na die eerste reëns
sodat die plante weer vinnig kan groei.
• Hou rekord van wanneer u brand, waar u brand en die toestande
waaronder u brand sodat u brandtegnieke kan verbeter en u die
kennis met u bure kan deel.
Wat u nie moet doen nie:
• Moenie vroeg in die winter brand nie.
• Moenie ’n vleiland brand as dit heeltemal droog is nie, want indien
die vleilandgrond ’n hoë organiese inhoud het, kan ondergrondse
vure ontstaan wat moeilik is om te beheer en jare kan bly brand.
• Baie warm en stadig bewegende vure kan selfs die vleiland se
plantwortelstelsels vernietig. Met geen beskermde deklaag nie, kan
gronderosie intree. Warm vure vernietig ook sekere plante en wysig
die verskeidenheid plante wat in vleilande groei. Dit veroorsaak dat
die benutting van die vleilande vir weiding daaronder ly.
• Stel brand vir nog ’n dag of selfs ’n jaar uit indien die gevaar van
grondontbranding in droë jare bestaan, wanneer weerstoestande
konstant ongeskik is of wanneer diere wat in die winter broei (bv.
lelkraanvoëls), nog nie klaar gebroei het nie.
Die aanplanting van gewasse in ’n vleiland
Een van die kontroversiële landbougebruike van vleilande is die kweek van
gewasse. Dit is moontlik om sommige gewasse op só ’n wyse in vleilande aan
te plant dat dit nie die funksionering van die vleiland beïnvloed nie. Verbouing
in vleilande word deur die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne
(CARA) beheer. ’n Permit vir verbouing in vleilande moet by die tersaaklike
landboudepartement verkry word. Die aanplant van gewasse in ’n vleiland
moet nooit die dreinering van die vleiland of die beplanting van die hele
vleiland behels nie. Dit sal die natuurlike eienskappe van die stelsel beïnvloed
en baie van die ander voordele van die vleiland ongedaan maak.
Wat u nie moet doen nie:
• Moenie bome in vleilande plant nie, veral nie eksoties e bome wat ’n
klomp water verbruik nie, omdat dit die vleiland sal uitdroog. Laat
altyd geskikte bufferstroke tussen houtplantasies en vleilande oop.
• Moet nooit ’n vleiland naby sy uitloop dreineer nie.
• Moenie aanplantings in die natste dele van die vleiland doen nie.
• Vermy sensitiewe vleilandgebiede: vleilande met hoë erosiegevare,
beboste vleilande, moeraslande, vleilande wat huisvesting vir
bedreigde spesies soos die lelkraanvoël bied, vleilande op die
randgebiede van riviermondings en vleilande in opvangsgebiede en
gebiede waar daar reeds baie skade aan ander vleilande aangerig is.
• Moet nooit diep slote grawe om vleilande uit te droog nie, want dit
kan die struktuur en funksionering van die vleilande vernietig.
• Vermy die gebruik van chemikalieë wat die oppervlak- of grondwater
sal besoedel.
• Moenie groot gebiede vir aanplanting ontbos nie. Probeer om
soveel moontlik oorspronklike plantegroei onaangeraak te laat om
die grond- en ondergrondse water te beskerm.
Nuttige wenke aangaande aanplanting in vleilande:
• Kies gewasse wat nie baie kunsmatige dreinering of droë grond
nodig het om te oorleef nie. Amadumbe en sekere inheemse grasse
is goeie keuses.
• As gevolg van die risiko van oorstromings en grondverlies moet u
eerder aan die buitenste rante van die vleiland aanplant as reg in die
middel of in die laagste deel van die vleiland.
• Probeer aanplantings met die minste moontlike versteuring doen.
Plant met die hand. Grawe net so veel as wat werklik nodig is.
• Gebruik die vleilandplante wat u verwyder, as ’n deklaag vir die
grond.
• Gebruik so min kunsmis en plaagdoder moontlik, want dit sal in die
water insypel en besoedeling veroorsaak.
• Akkerbou is ’n goeie idee. Dit beteken dat u stukke natuurlike
vleilandplantegroei tussen bewerkte akkers ooplaat.
• Moenie meer as altesame een kwart van ’n vleiland bewerk nie.
• ’n Goeie idee is om ’n aantal akkers te hê, sê maar drie, en jaarliks
slegs een te beplant. Dit beteken dat elke akker twee jaar lank
tussen aanplantings rus.
• As dreineringslote gegrawe word, maak seker dat dit nie meer as 30
cm diep en breed is nie en slegs ’n klein gebied dek sodat die vleiland
nie heeltemal opdroog nie.
• Alle dreineringslote moet in die droë seisoen toegegooi word om
die vleiland lewend te hou.
Is vleilande ’n agritoerismemoontlikheid?
Vleilande bied aangename oop ruimtes waar mense kan stap, voëls kan
besigtig of net die natuur geniet. Buitelugbedrywighede soos fietsry, stap,
roei, visvang, voëlbesigtiging en watersport dra alles by om ons leefstyl
en geestesgesondheid te verbeter en geestelike ongesteldhede, soos
depressie, teë te werk. Vleilande, soos vloedbosse (“mangroves”) en
rotsagtige kusgebiede, is gewilde bestemmings vir skooluitstappies. Sulke
gebiede is fassinerende buitelugklaskamers waar leerders die elemente
van die ekostelsel interaktief kan ervaar en eerstehands kan sien hoe dit
geïntegreer is.
As habitats vir natuurlewe soos watervoëls, seekoeie en hengelvis, is vleilande
aanloklike toeristebestemmings. Die ekonomie van die dorp Wakkerstroom
hang byvoorbeeld baie af van die voëlbesigtiging in die omgewing van
die Wakkerstroom-vleiland en omliggende gebied. Die St. Lucia-meer in
die iSimangaliso-vleilandpark in KwaZulu-Natal is nog ’n voorbeeld. Hier
regverdig die sukses van toerisme die 1996-regeringsbesluit om eerder
voorkeur aan die toerismegebaseerde ekonomiese ontwikkelingstrategie
vir die streek te verleen as aan mynbou.
5. Belanghebbendes
Wetland Portal of South Africa, www.wetlands.za.net verstrek kontakbesonderhede
provinsiale en streek-vleilandforums landwyd.
Die nasionale beleid en wetgewing voorsien duidelike riglyne en ondersteuning
vir rehabilitasie, maar die moeilike skakeling tussen mense en vleilande
beteken dat optrede wat op die volhoubare rehabilitasie en die bewaring
van vleilande gemik is, sal afhang van die toewyding en betrokkenheid van
alle belanghebbers, veral grondeienaars en vleilandgebruikers.
Aurecon
Tel: 021 526 5725 / 083 792 0872
www.aurecongroup.com
Departement van
Omgewingsake (DEA)
Tel: 012 310 3911
www.environment.gov.za
Aurecon is ’n meerdissiplinekonsultantskap wat spesialiseer op Departement van Waterwese
’n groot aantal waterhulpbron- en (DWA)
Tel: 0800 200 200
omgewingsterreine.
www.dwa.gov.za
Departement van Landbou,
Endangered Wildlife Trust (EWT)
Bosbou en Visserye (DAFF)
African Crane Conservation
Direktoraat Grondgebruik en
Programme (EWT-ACCP)
Grondbestuur
Tel: 011 372 3600
Tel: 012 319 7686
[email protected]
www.daff.gov.za
www.ewt.org.za