161
Vleilande in hoogs geïndustrialiseerde gebiede van die land is as
watersuiweringstelsels onvervangbaar. Die turfgrond van die Kliprivier in
die suide van Johannesburg het byvoorbeeld die besoedeling van 150 jaar se
goudmynbedrywighede in die westelike deel van die Witwatersrand en ook
die meer onlangse nywerheids- en stadsbesoedeling geabsorbeer. Dit het
beter watergehalte vir gebruikers stroomaf verseker, wat sonder vleilande
nie die geval sou wees nie. Die degradasie van hierdie vleilande verminder
nie slegs hul vermoë om water te suiwer nie, maar dit veroorsaak ook dat
vasgevangde besoedelstowwe vrygestel word.
Degradasie is nie noodwendig permanent nie. Suid-Afrikaanse en
internasionale ervaring het getoon dat dit moontlik is om die gesondheid en
waarde van gedegradeerde vleilande deur rehabilitasie te herwin. Wetgewing
van die departemente van Omgewingsake (DEA), van Waterwese (DWA) en
van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) beskerm vleilande en moedig die
rehabilitasie daarvan aan.
Vleilandrehabilitasie is die stappe wat gedoen word om die afname in die
gesondheid van die ekostelsel om te keer of te stuit.
Die volgende riglyne is bedoel om die volhoubaarheid van vleilande wat
reeds verbou word, te verhoog. Die omskakeling van gesonde vleilande vir
die aanplant van gewasse word nie aangemoedig nie. Wanneer daar oor die
impak van landbouaktiwiteite op vleilande getwyfel word, word aanbeveel
dat die relevante landbou-owerheid of voorligtingsbeamptes van die Mondivleilandprogram vir bystand gekontak word.
Benut ons vleilande oordeelkundig
Die konsep “oordeelkundige benutting” vereis dus ’n benadering tot
bestuur wat sal verseker dat die voordele geniet kan word sonder om die
natuurlike funksionering van die vleiland te verander. ’n Paar voorbeelde
van oordeelkundige landboupraktyke sluit die volgende in:
• beperkte veebeweiding;
• beheerde wateronttrekking soos vir watervoorsiening aan diere en
kleinskaalse besproeiing;
• versigtige oesinsameling sonder om te veel slote te grawe.
Wat in ’n vleiland vermy moet word
Working for Wetlands
Working for Wetlands gebruik vleilandrehabilitasie as ’n middel tot die
verligting van armoede en die gesonde benutting van vleilande. Hulle volg
’n benadering wat op samewerkende beheer en vennootskappe geskoei is.
Die program word namens die Departemente van Omgewingsake (DEA),
van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) en van Waterwese (DWA) deur
die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (SANBI) bestuur.
Befondsing word deur die DEA verskaf en Working for Wetlands maak
deel uit van die Uitgebreide Openbarewerkeprogram (EPWP) wat ten
doel het om werklose mense by die produktiewe sektor van die SuidAfrikaanse ekonomie te betrek, om hulle met vaardighede te bemagtig
terwyl hulle werk en om hul vermoë om ’n inkomste te verdien, te
verbeter. Die program skep werksgeleenthede terwyl die vleilande
gerehabiliteer word en biodiversiteit verhoog word.
Rehabilitasieprojekte
maksimeer
werkskepping,
ondersteun
kleinsakeondernemings en rus werkers met tersaaklike en bemarkbare
vaardighede toe. Jaarliks voorsien ongeveer 40 vleilandrehabilitasieprojekte regdeur Suid-Afrika tydelike werksgeleenthede vir en opleiding aan
ongeveer 2 000 mense uit die gemarginaliseerde groepe. Die werkspanne
bestaan uit 60% vrouens, 20% jongmense en 1% gestremdes.
4. Die benutting van vleilande op u plaas
Die algemene reël is dat vleilandgebruikers die basiese aard van vleilande
nie moet versteur nie, met ander woorde, die elemente grond, water en
plantegroei. Dit is deur die interaksie van hierdie elemente wat vleilande
’n reeks funksies en produkte voortbring wat die mens bevoordeel. Indien
’n vleiland op so ’n wyse gewysig word dat dit sy vermoë om te funksioneer
belemmer, kan die vleiland sy vermoë verloor om hierdie waardevolle dienste
te verskaf.
Vleilande verskaf spesifieke landbougeleenthede, hoofsaaklik winterweiding
en in mindere mate, die oes van gewasse en vesel. ’n Hektaar vleiland het
die potensiaal om weiding vir vyf keer meer diere te verskaf as ’n hektaar
gewone grasland, maar dit moet noukeurig bestuur word om oorbeweiding
en degradasie te voorkom. Vleilande verskaf vrugbare beddings vir gewasse
en geleenthede om huishoudelike kosvoorraad te verseker deur kleinskaalse
en bestaansverbouing, veral in gebiede van die land waar die grond nie vir
landbou geskik is nie.
Vleilande is egter nie geskik vir grootskaalse of kommersiële verbouing nie.
Boerdery in vleilande is ook slegs volhoubaar indien dit op ’n klein skaal
geskied en op ’n wyse wat sensitief is vir die hidrologie en ander eienskappe
van die vleiland. Gewasse wat nat toestande verkies kan byvoorbeeld in die
minder sensitiewe dele en op die rante van die vleiland aangeplant word.
Die skoonmaak van vleilandplantegroei soos riete en palmiet moet vermy
word. Ervaring het getoon dat die verwydering van vleilandplantegroei die
vleiland se vermoë om die vernietigende impak van oorstromings te temper,
verminder. Plantegroeiverlies laat erosierisiko’s ook toeneem.
• Moenie groot dreineringslote ’n vleiland grawe nie (nie dieper of
breër as 30 cm nie). ’n Voor in ’n vleiland is so goed as om die
prop uit ’n bad vol water te trek. Dit sal veroorsaak dat die vleiland
sodanig uitdroog dat baie van sy voordele verlore sal gaan.
• Voorkom oorbeweiding en vertrapping, veral in die reënseisoen. Dit
kan erosiepunte veroorsaak wat uiteindelik in dongas kan ontwikkel
wat die water uit die vleiland dreineer en tot ’n verswakking van die
gehalte van die water en ’n toename in grondverlies sal lei.
• Moenie vleilande jaarliks brand nie, veral nie met warm vure op die
verkeerde tyd van die jaar nie. Dit sal die plantegroei vernietig, die
verskeidenheid plantspesies verminder en ook erosie tot gevolg hê.
Oordeelkundige weiding
Alhoewel die voergehalte wat deur vleilandplante geproduseer word,
laag is, is produktiwiteitsvlakke in vleilande hoog. Nogtans kan die
kwaliteit vleilandvoer verbeter word deur dit oordeelkundige te brand.
Die produktiwiteit van vleilandplante kan as weiding benut word. Die
weidingsvermoë (biomassa) in die buitenste sones van ’n vleiland is gemiddeld
1,5 keer hoër as die ooreenstemmende gebied wat nie vleiland is nie. Dit
hang egter van baie faktore soos spesiesamestelling en die vogsiklusse af.
Wat u moet doen as u weiding in ’n vleiland toelaat:
• Vleilande kan hoofsaaklik in die droë seisoen vir weiding gebruik
word sodat die vee nie te veel nat grond omwoel en die gebied vir
erosie vatbaar word nie.
• Hou die vee aan die buitenste rante van ’n vleiland, waar hulle weg
is van die permanent oorstroomde gebiede.
• Waak teen oorbeweiding en vind uit hoe om ’n vleiland korrek te
bewei (bv die dravermoë, wanneer en hoe lank om weiding toe te
laat en rusperiodes).
Wat u nie moet doen nie:
• Moenie weiding in die reënseisoen of wanneer die grond baie nat
is toelaat nie, omdat die vee die grondoppervlak deur vertrapping
versteur. Dit lei tot die verswakking in die watergehalte en die
verhoging van die risiko van erosie.
• Moenie die vee in die natste deel van die vleiland toelaat waar hulle
die hoogs sensitiewe “kern” van die vleiland kan versteur en selfs
daarin kan vassit nie.
• Moenie swaar beweiding sonder rusperiodes toelaat nie. Dit kan
tot gevolg hê dat waardevolle soetgrasse (of grasse met ’n hoë
voedingswaarde) deur minder smaakvolle of minder nuttige spesies
vervang word.
• Moenie dat vee die gebied oorbewei nie. Dit sal veroorsaak dat die
beskermde plantbedekking van die vleiland verdwyn wat tot erosie
en die uitdroog van die vleiland sal lei.
• Die beweiding van die volgende tipes vleilande moet vermy word
omdat dit maklik erodeer wanneer dit deur vertrapping en weiding
versteur word: vleilande met los grond, vleilande teen steiler hellings
en waar die water begin om in ’n kanaal te konsentreer.