Die Agri Handboek 5de Uitgawe | Page 153

151 op die Bewaring van Landbouhulpbronne mag hierdie plante nêrens anders voorkom as in biologiesbeheerde reservate nie, tensy hulle reeds bestaan het toe die regulasie in werking getree het (30 Maart 2001). Dit beteken dat bestaande plante nie deur die grondgebruiker uitgehaal hoef te word nie, maar hulle moet beheer word en geen nuwe plante mag ingevoer, gekweek of versprei word nie. Die plante mag nie meer verkoop word nie. Kategorie 3-plante sluit in jakarandas, seringbome, Australiese silwereik, St. Josefslelie, ensovoorts. Die Wet op Landbouplae 36 van 1983 Hierdie wet maak voorsiening vir maatreëls ingevolge waarvan verhoed kan word dat landbouplae die land binnekom, en ook vir die bekamping van bestaande plae. Dit spesifiseer onder andere dat ’n invoerpermit verkry moet word voordat produkte of materiaal wat landbouplae mag bevat, in die land ingebring mag word. Die Wet op Dieresiektes 35 van 1984 Die oogmerk van hierdie Wet is om die nasionale diere- (en menslike) bevolking asook die uitvoermarkte teen dieresiektes te beskerm. Hierdie siektes word hoofsaaklik deur uitheemse indringerpatogene veroorsaak. Kragtens hierdie wet moet elke besending diere en/of diereprodukte wat ingevoer word, vergesel wees van ’n oorspronklike veeartsenykundige invoerpermit uitgereik deur die Nasionale Direktoraat vir Dieregesondheid, en ’n oorspronklike gesondheidsertifikaat, uitgereik deur die bevoegde veeartsenykundige owerheid van die uitvoerland. National Environmental Management: Biodiversity Act (NEM: BA), No. 10 van 2004 Dit is ’n meer onlangse stuk wetgewing en word deur die Departement Omgewingsake en Toerisme geadministreer. Die oogmerk van die wet is om die land se biodiversiteit te beskerm, onder andere deur beheer van uitheemse en indringerorganismes. Hoofstuk 5 van hierdie wet bepaal dat permitte verkry moet word vir die uitvoer van aktiwiteite met beperkinge op en wat enige uitheemse spesie wat nie vrygestel is nie, of enige gelyste indringerspesie behels. Die beperkte aktiwiteite sluit die invoer, beheer, teling, verkoop, koop en verplasing van ’n monster van die spesifieke spesie in. Organismes wat inheems aan die land is maar buite hulle natuurlike grense voorkom, word ook as uitheemse spesies omskryf vir die doeleindes van hierdie wet. Die regulasies ten aansien van dele van hierdie wet moet nog opgestel word, en dit is nog nie duidelik hoe dit boere sal raak nie. 3. Beheermaatreëls ten aansien van uitheemse indringerplante Een of ’n kombinasie van die volgende beheermaatreëls word toegepas: meganies (ontworteling, afkap, afsny, brand, opkap), chemies (behandeling met geregistreerde plantdoders), en biologiese beheer (sien hoofstuk oor biobeheer). Brand is ook ’n opsie in bepaalde omgewings en die Werk met Vuur -program kan in dié verband genader word. ’n Geïntegreerde bestuursplan word voorgestel vir enige gebied wat deur UIP geïnvesteer is om te bepaal in watter volgorde die verskillende uitheemse spesies en onderafdelings van die geïnvesteerde gebied behandel moet word, en om te verseker dat die doeltreffendste en koste-effektiefste kombinasie van beheermaatreëls toegepas word. Gereelde opvolgaksies is van die grootste belang en ook noodsaaklik om beheer te behou as meganiese of chemiese maatreëls toegepas word. Streng beheer moet uitgeoefen word in ooreenstemming met die riglyne op die onkruiddoder se etiket. Toedienings wat nié ooreenstem met die riglyne op die etiket nie, mag ingevolge die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels 36 van 1947 nie uitgevoer word nie. Die beheer van UIP kan baie duur wees in terme van mannekrag, materiaal en toerusting wat dit verg. As dit verkeerd uitgevoer word of die verkeerde metode gebruik word, is hierdie onkoste tevergeefs, en dit kan selfs lei tot enorme omgewingskade. Voordat besluit word op die doeltreffendste, bekostigbaarste en geskikste beheeropsie vir UIP in ’n spesifieke situasie, moet sekere faktore in aanmerking geneem word. So moet beheermetodes gebruik word wat geskik is vir die betrokke spesie sowel as vir die ekosisteme waar hulle voorkom. Sien die opsie in “Guide to Clearing Alien Invasive Plants” in die kieslys by www.dwa.gov.za/wfw. Biobeheer is In langtermyn- volhoubare oplossing vir die beheer van uitheemse indringerspesies en werk dikwels die beste as deel van ’n geïntegreerde bestuurstelsel as dit ’n bestaande beheerprogram aanvul. Op langtermyn lei dit tot ’n afname in die koste van die ander beheermetodes, wat die beheerprogram volhoubaar maak. 4. Rehabilitasie van gebiede waar uitheemse indringerplante verwyder is As UIP uit ’n gebied verwyder is, sal dit sekerlik nie die einde van die probleem wees nie. Baie plante het die vermoë om weer uit hulle wortels of afgesnyde stompe uit te loop, en as die afgesnyde stompe nie met geskikte plantdoders behandel word nie, kan dit lei tot ’n erger infestasie as tevore. Daar sal nog groot hoeveelhede sade van die UIP in die grond wees, en dit sal in groot getalle ontkiem namate meer sonlig op die grond val. Die ontwrigting van die grond deur ontworteling van bome laat die sade van die UIP ook makliker ontkiem. Baie uitheemse peulgewasse soos die Australiese Acacia-spesie (wattels) het sade wat vuurbestand is en deur vuur gestimuleer word om te ontkiem. Die meeste sade van inheemse plante word egter deur vuur vernietig. Daar moet omsigtig te werk gegaan word met sensitiewe biome soos die fynbosbioom, want die peulspesies het stikstofbindende bakterieë in hul wortels van ’n allopatiese uitwerking het en die grondsamestelling verander. Hulle vaar dus beter as uitheemse spesies. Om te verhoed dat skoongemaakte gebiede weer deur die UIP ingeneem word, moet opvolgaksies onderneem word vir so lank as wat nodig is. Dit is ook baie belangrik om ’n meer gewenste soort plantegroei in die skoongemaakte gebiede te vestig, byvoorbeeld ’n vinnig groeiende grassoort. Die volgende publikasies wat gekombineer moet word gee riglyne vir rehabilitasie van gebiede waar UIP uitgehaal is: • Rehabilitation recommendations after alien plant control. P Campbell. Plant Protection Research Institute Handbook No 3. PPRI: 1-43. • Grab-a-grass dial: guidelines for rehabilitation after alien plant control. PL Campbell. ARC-Plant Protection Research Institute. (Beskikbaar vir KwaZulu-Natal; Mpumalanga & Limpopo; die Vrystaat, NoordKaap, Noordwes & Gauteng; Oos-Kaap). Albei is beskikbaar van NIPB-boekverkope. Skakel 012 808 8000. Die Werk vir Water-program stel ook inligting beskikbaar. Skakel hulle tolvry by 0800 005 376 of besoek www.dwa.gov.za/wfw. 5. Die “Werk vir Water” Program Besoek www.dwa.gov.za/wfw Die aanslag teen UIP word gelei deur die “Werk vir Water” (WvW) -program en geadministreer deur die Departement Water en Omgewingsake. Hierdie program werk in vennootskap met plaaslike gemeenskappe, aan